Editor's noteLocal newsNews

Oud en jonk staan bakhand vir bietjie sop en brood

Bejaarde mans en vroue, kinders en jongmense in kortbroeke met kaalvoete het die kos dankbaar ontvang.

Die winter veroorsaak elke jaar dat die nood onder haweloses en armes drasties styg en vir baie word elke dag en veral die nagte ’n stryd om oorlewing.

Met die temperatuur wat die afgelope paar dae skerp gedaal het, moet welsynsorganisasies en vrywilligers behoorlik bontstaan om te help.

’n Atmosfeer van wanhoop het Sondagmiddag in die wandellaan geheers toe sowat 50 mense geduldig in ’n ry gestaan het vir ’n houertjie warm sop en ’n paar snytjies brood.

Bejaarde mans en vroue, kinders en jongmense in kortbroeke met kaalvoete het die kos dankbaar ontvang.

Werknemers en vrywilligers van Die New Beginnings Care Centre in Boksburg deel elke Sondag kos in die wandellaan uit.

Vrywilligers en lede van Die Menorah Tabernakel in Rynfield, Benoni het ook onlangs laataand die strate van die dorp ingevaar en sop, vetkoek, komberse en koeldrank uitgedeel.

Charlene Pretorius het gesê dat Die Menorah Tabernakel regoor die Oos-Rand uitreikingsprojekte aanpak.

“Ons ondervind dat die nood daar buite baie groot is,” het sy gesê.

Martie Pienaar, ’n maatskaplike werkster by die Rata Maatskaplike Dienste (voorheen Die Ondersteuningsraad van Brakpan), het beaam dat die winter beslis sy tol eis.

“Daar is baie mense daar buite wat baie swaar kry en totaal afhanklik is van welsynsorganisasies en die goedhartigheid van ander,” het Pienaar gesê.

Sy het ’n beroep op die publiek gedoen om komberse, warm klere, jasse, skoene asook kos te skenk.

Lees ook:

Haweloses ontvang handgemaakte komberse

Related Articles

Back to top button