Editor's choiceLocal newsNews

Na drie maande in hospitaal is baba tuis

“Hy was nie beplan nie en ons het almal deur ‘n moeilike tyd gegaan, maar hy is my alles.”

‘n Jong ma van die dorp het nie vir een oomblik ophou hoop toe dokters, pas na die geboorte van haar baba, vir haar gesê het dat haar kind se kanse op oorlewing op net 50 present gereken kon word.

Chantellé Harmse (17) het op 8 Maart geboorte geskenk aan ‘n peipklein Jaco, wie op sewe maande (tussen 28 en 30 weke) gebore is en 2.5kg geweeg het.

Die swangerskap was nie beplan nie en Chantellé, wat vanjaar matriek sou voltooi, se haar lewe het onherroepelik verander.

“Ek en my ouers, Isabella (54) en Willem (55) Harmse, het vrede gemaak met die feit dat ek swanger was en ons het selfs planne gemaak dat ek sou terugkeer skool toe en my matriek sou voltooi,” het sy vertel.

Jaco se vroegtydige opwagting, met die gepaardgaande komplikasies, het egter almal se planne omver gewerp en die ma en grootouers van die kleintjie het drie angsvolle en uitmergelende maande agter die rug.

“Jaco is in die Verre Oos-Rand Hospitaal gebore en, alhoewel hy ‘n prematuur baba was, het dit aanvanklik goed gegaan met hom,” het Chantellé vertel.

Die situasie het egter gou verander en die kleintjie is, ure nadat hy gebore is, in die pediatriese intensiewe sorgeenheid van die Verre Oos-Rand Hospitaal opgeneem.

“Die personeel het baie mooi na my kind gekyk, maar sy toestand het geleidelik versleg en daar is na twee weke besluit om hom na die Chris Hani Baragwaneth Hospitaal oor te plaas,” het die jong ma vertel.

“My kind het op twee weke sy eerste operasie ondergaan. Ons is meegedeel dat hy nekrotiserende enterocolitis het.”

Dié toestand kom dikwels by vroeggebore babas voor en is ‘n infeksie van die derms, wat ontsteking en dooie weefsel veroorsaak.

“Dit was ‘n baie moeilike tyd vir my en my ouers; dit was ‘n uitdaging om elke dag by die hospitaal uit te kom. Jaco was baie siek,” het Chantellé gesê.

“Ek het egter nooit moed verloor nie en my kleintjie het aanhou veg.”

Die kleintjie se gewig het ook afgeneem, van 2.5kg na 1.5kg.

‘n Tweede operasie is twee weke later op die kind gedoen. ‘n Tydelike kolostomie, waar ‘n kunsmatige opening in in die buik gemaak word, waardeur stoelgang in ‘n sakkie uitgeskei word, is uitgevoer.

“Dokters het ons meegedeel dat Jaco die sakkie waarskynlik sal moet dra totdat hy drie jaar oud is.

“Na dié operasie was dit ‘n lang pad van herstel vir die klein vegtertjie. Jaco is eers verlede Dinsdag, na bykans drie maande in die hospitaal, ontslaan.”

“Dit was so lekker om my kleintjie huistoe te kon neem. Hy is ‘n regte klein vegtertjie en dit gaan nou goed met hom,” het Chantellé vertel.

“Ons moet net sorg dat ons altyd betyds is met sy voeding, want hierdie klein mannetjie kan vir jou skreeu, hoor.”

Sy het groot lof vir die personeel van beide hospitale waar haar klein wonderwerkie behandel is.

“Ons kon nie ‘n mediesefonds bekostig nie, maar my kind het goeie sorg gekry,” het sy gesê.

Chantellé het intussen as ‘n kelnerin begin werk om vir haar kind te voorsien. Sy werk vanaf laatmiddag en kom eers teen middernag by die huis.

“Gelukkig het ek my ouers wat met Jaco help.”

“Ek wil baie graag my matriek voltooi en ek is van plan om volgende jaar terug te keer skool toe, sodat ek dit kan doen.

“Vir nou moet ek eers sorg dat my kind mooi groei en sterk word.

“Hy was nie beplan nie en ons het almal deur ‘n moeilike tyd gegaan, maar hy is my alles.”

Related Articles

Back to top button