Local newsNews

Ouers is verpletter na seun (13) sy eie lewe neem

“My boetie was ’n rustige, gelukkige seun en hierdie gebeurtenis is baie swaar vir ons gesin.”

Die ouers van ’n 13-jarige kind van die dorp is gebroke nadat hy gister (Woensdag) sy eie lewe geneem het.

Hendrik Gerryts was ’n graad sewe leerder aan die Laerskool Brakpan-Oos.

Hy was ’n talentvolle rugbyspeler wat verlede jaar en vanjaar vir sy skool se eerstespan uitgedraf het.

Volgens ’n vriend van die gesin het die tiener ook vanjaar proewe vir die Cravenweek gespeel.

Hendrik se ouers, Connie (47) en Boetie (57), was vanoggend (Donderdag) nie in ’n toestand om met die media te praat nie en hulle is bygestaan deur ’n priester van hul kerk.

Hendrik se oudste suster, Milanie (25), het aan die Herald gesê dat haar boetie ’n gelukkige seun was, wat al die gewone dinge gedoen het, wat ’n tiener doen.

“Hy het dit geniet om PlayStation te speel en was natuurlik gedurig op sy foon,” het sy vertel.

Sy het ook bygevoeg dat hy graag kwadfiets gery het en dat hy altyd besig was om aan sy kwadfiets te werk.

“Hy was dol oor vinnige motors en het dit geniet om na aktiwiteite by The Rock renbaan te gaan kyk.”

“My boetie was ’n rustige, gelukkige seun en hierdie gebeurtenis is baie swaar vir ons gesin,” het Milanie gesê.

“Dit is vir niemand om te oordeel nie,” het sy bygevoeg.

Sy het ook vertel dat haar boetie gereeld Sondagskool toe gegaan het en dat hy dit geniet het om aan opvoerings, wat deur die kerk aangebied is, deel te neem. Hy was ’n lid van die Ou Apostoliese Kerk, Brakpan-Oos.

By navraag het ’n personeellid van die Laerskool Brakpan-Oos bevestig dat daar Donderdagoggend ’n berader by die skool was om die leerders by te staan.

Hendrik laat nog twee susters, Madelein (22) en Bianca (20) na.

Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button