Editor's choiceLocal newsNews

Brakpan inwoner vier haar 100ste verjaarsdag

Inwoners van die Eric Holdtman Dienssentrum het verlede Donderdag rede gehad om partytjie te hou.

Hester Potgieter (nooiensvan Ruchter), of tannie Pottie soos wat baie mense haar ken, het haar 100ste verjaarsdag verlede Donderdag saam met vriende en haar dogter in die dienssentrum se raadsaal gevier.

Tannie Pottie het lekker gesellig saam met almal gekuier en ook genoem dat die hele affêre vir haar onwerklik voel.

“Ek kan nie glo dit is Hester Potgieter wat hier sit en haar 100ste verjaarsdag vier nie. Ek voel buite myself,” het tannie Pottie gesê.

Sy het terug gereflekteer oor haar lewe en het geglimlag terwyl sy gesê het: “As ek so in die tuin van herinnering stap, kan ek net goeie dinge onthou.”

Sy is op 21 April 1916 gebore en het in Dewetsdorp, in die Vrystaat, groot geword.

Sy kan nou nog stories onthou van haar kinderdae en deel dit graag met mense.

“Ek onthou hoe ons nog met die donkiekar skool toe gegaan het; dit was maar ‘n regte plaasskooltjie gewees,” het sy vertel.

Dit is ook in die Vrystaat waar sy Andreas Potgieter, haar aanstaande man, ontmoet het.

“My pa en van die plaaswerkers het gehelp met die bou van die Vaaldam; Andreas was ook deel van die span gewees,” sy gesê.

Tannie Pottie en Andreas was, net voor die Vaaldam klaar gebou is in 1938, op 4 Maart, 1936, in Oranjeville getroud. Andreas is ongelukkig in 1962 oorlede.

“Ek en my man was maar net so oor die 20 jaar getroud, maar dit was ‘n goeie tyd in my lewe gewees,” het sy onthou.

Tannie Pottie is al sedert 1981 ‘n inwoner van Tweedy Park, maar is nog net so besig soos die dag toe sy daar aangekom het. Sy spandeer graag tyd deur naaldwerk te doen, te hekel, beskuit te bak, en ‘n goeie boek te lees.

“Ek kan nie rustiger word nie; ek wil altyd so graag iets doen.” het sy vertel.

Hester se een dogter, Agatha Maré (78), is ook woonagtig in Tweedy Park. Sy het ook nog ‘n dogter, Johanna Hartwill (76), wat in Oudtshoorn woon, en ‘n seun, Andreas Potgieter (77), wat in Bloemfontein woon.

Toe die Herald vir tannie Pottie uitgevra het oor haar geheim om lank te lewe, het sy net geglimlag en gesê dit is haar geheim, maar bygevoeg dat dit “net met die genade van God” moontlik is.

Lees ook:

Inwoner word ‘n eeu oud

Saam is die twee 189 jaar oud

Freda reaches her 100-year milestone

Related Articles

Back to top button