BlogsOpinion

In die kollig

Leer Gideon Lange ken.

Gideon Lange het byna twee jaar gelede vir die eerste keer by die hek van Laerskool Die Arend ingestap toe hy as die nuwe hoof van die skool aangestel is. Die pa van twee seuns, Deon (7) en Riaan (4), is getroud met Carin en die gesin woon in Dalpark.

• Die tyd het aangestap en jy is nou al vir ’n hele ruk hoof van Die Arend. Was dit ’n groot aanpassing en waar staan jy nou?

Dit is vir my moeilik om te glo dat twee jaar al verby is. Die tyd het regtig gevlieg. Daar het egter soveel in die laaste twee jaar gebeur en ek kan met alle eerlikheid sê ek is nou ’n Arend in murg en been. Dit was uit die aard van die saak ’n aanpassing aangesien alles maar nuut en vreemd aan die begin is. Ek is egter bevoorreg om die beste kollegas onder die son te hê. Ons werk as ’n span saam om ons gesamentlike doelwitte te bereik.

• Was dit nog altyd jou toekomsplan om ’n skoolhoof te word?

Ja, ek was nog altyd gemotiveerd om eendag hoof van ’n skool te wees.

• Hoofde van skole se verantwoordelikhede en pligte word nie makliker nie. Hoe hanteer jy dit?

Die verantwoordelikheid op hoofde se skouers lê al hoe swaarder veral as gevolg van die politieke situasie waarin Afrikaanse skole hulself bevind. Dit is egter nie iets om van weg te deins of negatief oor te raak nie. Ek en die personeel van Laerskool Die Arend het saam vir ons doelwitte opgestel en ons almal werk ewe hard daaraan om hierdie doelwitte te bereik. My uitgangspunt is dat ’n skool soos ’n legkaart is en elkeen van ons het sekere stukkies wat ons verantwoordelikhied is. As elkeen net sy stukkie in plek sit het ons ’n mooi Arend prentjie. As een persoon egter nie sy of haar stukkie in plek het nie word die hele Arend prentjie bederf. Daarom besef elke persoon by Die Arend hoe belangrik sy of haar aandeel is en dit maak dat ons almal die verantwoordelikheid deel en almal help om die las ligter te maak.

• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?

Oor 10 jaar sien ek myself steeds in die “warm” stoel by Laerskool Die Arend.

• Dink jy kinders van vandag verskil baie van kinders van 15 jaar gelede?

Ek dink kinders se omstandighede het baie verander, maar hulle behoefte nie. Tegnologie, ekonomiese omstandighede, sosiale veranderinge om maar ’n paar faktore te noem wat kinders se omstandighede definitief beïnvloed. Na my mening word kinders te vroeg blootgestel aan grootmens dinge en hulle word ontneem van die geleentheid om net nog kind te wees. Kinders ervaar hulle ouers se bekommernisse oor finansies daagliks in die huis. Baie van ons kinders se gesinssamestelling lyk nie meer soos 15 jaar terug nie. Egskeidings is deesdae baie meer algemeen en ons kinders word baie meer hieraan blootgestel. Hulle word ook gedruk om te presteer ten alle koste. Ek dink ons kinders doen eintlik baie goed as ons dink aan die druk waaronder hulle is. Dit maak definitief dat kinders verander en aanpas by hulle omgewing. Hulle behoefte bly egter wat dit nog altyd vir kinders was – ’n plekkie in die son waar ek aanvaar word vir wie en wat ek is en om lief gehê te word.

• Indien jy vandag ’n ander beroep moet kies, wat sal dit wees en waarom?

Ek wil niks anders doen as hoof wees van Laerskool Die Arend nie. Ek het die onderwys verlaat en na drie jaar teruggekeer tot die beroep. Ek kan eerlik erken dat ek niks anders wil wees nie. Ek is werklik gelukkig en geniet my werk. Dit bly vir my lekker om elke oggend by die skool se hekke in te ry en ’n gevoel van opgewondenheid in my maag te kry oor die dag wat voorlê.

• Waarsonder kan jy nie klaarkom nie?

My Skepper, my vrou en my kinders.

• Indien iemand vir jou ’n motor van jou keuse as geskenk wil gee, wat sou dit wees?

Wel dit sal ’n bakkie wees, ’n ISUZU.

• Dink jy sosiale media is ’n goeie ding of ’n euwel?

Ek dink nie sosiale media kan as goed of ’n euwel bestempel word nie. Ek dink wel mense wat sosiale media gebruik kan as verantwoordelik of onverantwoordelik bestempel word. Sosiale netwerke is ’n moderne instrument wat wêreldwyd gebruik word. Ek dink as dit verantwoordelik gebruik word is dit sekerlik ’n goeie ding. Ongelukkig word dit nie altyd so gebruik nie en daarom is daar ook ’n baie negatiewe komponent.

• Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?

Ek is nogal ’n “pak die bul by die horings” tipe mens. As daar uitdagings oor my pad kom sal ek die situasie evalueer en bepaal wat nodig is om die uitdaging te oorwin. Ek sal God vra om my die insig te gee om die regte besluit te neem en dan die krag om die besluit in aksie oor te sit en doen wat ek moet doen om die uitdaging te oorkom. Uit teleurstellings probeer ek om net te leer en as ek foute gemaak het om nie weer dieselfde foute te maak nie. Daarna sit ek teleurstellings agter my en gaan aan met meer ervaring.

• Hamburger of ’n bord boerekos?

My ma se boere plaaskos.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button