CrimeEditor's choiceNews

Vrou en kinders van polisieman wat dood geskiet is kry kans om hom te groet

Die 44-jarige polisieman, wat Vrydagmiddag deur rowers geskiet is, het kort voor sy dood aan sy vrou gesê dat hy lief is vir haar en hulle kinders en dat hy “ok” gaan wees.

Christine Reynecke (35) het Maandagoggend gepraat oor die dood van haar man, adj-off Morné Reynecke, wat Vrydagmiddag ongeveer 3nm deur een of meer rowers geskiet is.

“Ek was by Morné net voordat hy na die teater toe is en hy het nog ’n grappie gedeel en gesê dat hy ‘ok’ sal wees, aangesien hy van yster en plaat gemaak is,” het sy hartseer vrou gesê.

Volgens inligting van die Brakpan SAPD is ’n BMW Vrydagmiddag in Athlonelaan gekaap.

“Inligting dui daarop dat adj-off Reynecke dié voertuig asook die rowers se wegkom voertuig, ’n wit Seat, roekeloos of nalatig sien bestuur het,” het kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD gesê.

“Die rowers het op die R554 op adj-off Reynecke losgebrand en hy is in die bors en linkerarm getref,” het Joubert gesê.

Die rowers (daar was glo drie) het na bewering in die wit Seat op die vlug geslaan.

Adj-off Reynecke is eers op die toneel behandel voordat hy per helikopter na die Netcare Union Hospitaal in Alberton vervoer is. Hy is kort voor 9nm oorlede.

’n Uitgebreide soektog na die kriminele is dadelik van stapel gestuur.

Christine vertel dat haar man haar kort voor 3nm gebel het om te hoor of sy iets van die winkel nodig het.

“Hy was oppad huis toe. Ons dogter, Chanté (12), sou by ’n maatjie gaan oorslaap en dié kind se ma het opgedaag om haar te kom haal.

“Ek het Morné toé gebel om toe hoor hoe lank hy nog gaan wees, want Chanté wou hom groet voordat sy weggegaan het.”

“Sy foon het net gelui en ek het dit vreemd gevind.”

“Kort daarna het my foon gelui en ’n vreemde persoon het vir my gevra of Morné my man is en of hy aan ’n mediesefonds behoort.”

“Ek het dadelik geweet dat daar groot fout was, maar die persoon wat gebel het wou nie meer inligting verskaf nie.

“Ek en die vrou, wat my kind kom oplaai het, het besluit om te gaan kyk, want ek het besef hy kon nie ver van die huis af wees nie.

“Ons het eers die pad gery wat hy normaalweg sou ry. Ek het toe ’n polisiehelikopter in die lug gewaar. Ons het in die rigting daarvan gery.”

Christine kon nog op die toneel van die skietery met haar man praat.

“Hy was besorgd oor sy persoonlike besittings en wou weet waar sy kar is,” het sy gesê.

“Dit was nog altyd sy droom om ’n Subaru te hê en hy het net verlede Vrydag uiteindelik sy droomkar gekry.”

Christine is dadelik na die hospitaal en die kinders het bietjie later gevolg.

Die egpaar het ook ’n seun, Mario.

“Hy het reeds ’n pyp in sy keel gehad toe die kinders daar aankom, maar hy het duime in die lug vir die kinders gewys dat hy ‘ok’ is,” het Christine gesê.

“Dit is die laaste keer dat ons hom gesien het.”

“Morné het gelewe vir my en ons twee kinders. Hy was die beste eggenoot en pa wat enigiemand kon wens om te hê. Nou moet ons die stukke optel en voortgaan sonder hom. Dit gaan moeilik wees.”

Adj-off Reynecke was vanaf 1991 betrokke by die meganiese afdeling van die SAPD in Benoni (Benoni Garage).

Kapt Joubert het Dinsdagoggend bevestig dat geen arrestasies tot dusver gemaak is nie.

“Die ondersoek duur onverpoos voort,” het Joubert gesê.

Die begrafnisreëlings was teen druktyd ook nog nie gefinaliseer nie.

Lees ook:

SAPD en nooddienste op toneel van moontlike kaping en skietvoorval

Opvolg: Lid van SAPD oorlede na kaping en skietvoorval

Related Articles

Back to top button