CrimeEditor's choiceNews

Dief byt vrou se ring van haar vinger af

‘n Inbreker het Donderdagmiddag ‘n 70-jarige vrou se ring van haar vinger afgebyt, nadat sy aan hom gesê het dat sy die ring al vir jare nie van haar vinger kan afkry nie.

Die wonde aan die vrou se hand is van so ‘n aard dat sy, as voorkoming, antiretrovirale medikasie moet gebruik.

Die vrou se naam word om veiligheidsredes nie verstrek nie en haar presiese adres ook nie. Sy woon in die Dalview omgewing.

Sy het vertel dat sy Donderdagmiddag ongeveer 12.30nm by haar huis aangekom het.

“Ek het ‘n rukkie in my kamer gaan televisie kyk en moes in ‘n sittende posisie ingesluimer het,” het sy vertel.

Twee inbrekers het intussen die gemotoriseerde hek van sy spoor probeer aflig en dit daarna oop geforseer. Daarna het hulle ook die veiligheidshek by die voordeur met ‘n koevoet probeer oop forseer en het dit uiteindelik uit die muur gebreek. Nadat hulle hierin geslaag het, het hulle die voordeur oopgebreek.

“Op dié stadium het ek die lawaai gehoor en was op pad om ondersoek in te stel,” het sy vertel

Die inbrekers was toe reeds in die huis en het ook ‘n gangdeur, wat gesluit was, stukkend geskop om by die vrou uit te kom.

“Ek het na my kamer gehardloop om by ‘n paniekknoppie uit te kom. Net toe ek dit wou druk het een van die inbrekers dit uit my hand gepluk.”

Volgens haar het die een inbreker die televisiestel in haar kamer gevat en na die sitkamer beweeg, waar hy nog ‘n televisiestel gevat het.

“Die een wat by my in die kamer gebly het, het gevra waar my juweliersware is. Ek het vir hom gesê dat ek nie juwele het nie, aangesien al my goed ‘n paar maande gelede gesteel is. Hy het begin om die laaie oop te ruk totdat hy die ring aan my vinger gesien het.”

“Dit is ‘n ring wat ek al vir jare aan my vinger het en wat nie kan afkom nie. Die inbreker het voortgegaan om die ring met sy tande van my vinger te probeer afkry.”

“Na ‘n gesukkel het hy daarin geslaag. Die eindresultaat was ‘n erg vernielde vinger. Hy het ook my pinkie omgebruig en beseer in die proses,” het die vrou gesê.

Volgens haar het die inbreker toe ‘n bos sleutels gegryp en saam met sy makker op die vlug geslaan.

Ek het versigtig na die voorkant van die huis beweeg en toe hulp ontbied,” het die vrou gesê.

Gedurende September, verlede jaar, is daar helder oordag by haar huis ingebreek toe die vrou nie tuis was nie.

Tydens dié voorval het die inbrekers verskeie items, onder andere ook haar juwele, gesteel.

Slegs ‘n maand daarna was sy in die huis toe sy gehoor het hoe iemand probeer inbreek.

Sy kon gelukkig betyds alarm maak en die booswigte het op die vlug geslaan.

“Dit is jammer dat stewige buite hekke en veiligheidshekke asook geslote deure nie meer genoeg is om ‘n mens veilig te hou nie,” het die vrou gesê.

Lees ook:

Police round up business robbery gang

 Dalpark resident shoots suspected robber

Oupa (71) beskerm kleindogters, skiet inbreker

Cornered robbery suspects open fire

Related Articles

Back to top button