CrimeEditor's choiceNews

Man met byl gekap toe hy visvang plek soek

’n Inwoner (40) van Brenthurst is Vrydagmiddag deur ’n man met ’n byl aangeval toe hy gaan ondersoek instel het na ’n visvang plek by die Danie Taljaard Park in Benoni.

Die man, wie versoek het dat sy naam nie gepubliseer word nie, het aan die Herald gesê dat hy Vrydagoggend ongeveer 11vm in die omgewing van die Danie Taljaard Park was en dat hy besluit het om te gaan kyk hoe dit daar lyk.

“Ek vang graag vis, maar daar is byna geen plekke in die omgewing waar ’n mens nog kan visvang nie,” het die man gesê.

“Ek was geensins bewus van die feit dat die plek eintlik gevaarlik is nie. Ek sou ook nie daar stilgehou het, as ek nie ’n man met ’n kano op die water gesien het nie,” het die inwoner gesê.

Die inwoner het uitgeklim en die man in die kano uitgevra oor die potensiaal om vis te vang in die dam.

“Ek was nog besig om te praat toe die man in die kano vir my skreeu dat ek moet oppas en agter my kyk.”

“Ek het omgeswaai en ’n man met ’n byl, wat tot reg agter my beweeg het, het dadelik na my gekap.”

“Hy het my op my arm en hand met die byl gekap en ek het besef dat ek sou moes veg vir my lewe.”

“Ek kon darem daarin slaag om die byl by hom af te neem en ek het ’n hou na hom gekap. Ek weet ek het hom raak gekap, maar dit is moeilik om te sê waar aangesien alles baie vinnig gebeur het.”

Die aanvaller het daarna op die vlug geslaan.

“Ek glo nie ek sal sommer weer na die plek gaan nie. Dit is jammer dat daar nie plekke in die omgewing is waar dit skoon en veilig is om vis te vang nie. Dit is nie altyd moontlik om na ver plekke te ry om iets te doen wat ’n mens geniet nie.”

Die man het steke aan sy wonde gekry en die voorval is by die SAPD aangemeld.

Related Articles

Back to top button