Editor's choiceLocal newsNews

‘Ons bly onder ’n boom, want ons kry nie werk nie’

Dat die land moeilike ekonomiese tye beleef is duidelik te sien aan die toenemende hoeveelheid mense wat deesdae moet klaarkom sonder ’n dak oor hulle kop.

Dit is nie meer ongewoon om mense bakhand te sien bedel nie en haweloses, wat op straat woon, sonder enige skuiling het ook ’n algemene gesig geword.

Só ’n groep mense is deesdae in ’n park in Brakpan-sentraal te sien.

Die vyf mans en een vrou is almal werkloos en hul tuiste het ’n boom, waaronder hulle slaap, geword.

Die 36-jarige vrou het Maandagoggend, huilend gestaan en bedel.

Die Herald het met haar gesels en ’n hartseer verhaal van werkloosheid, armoede, desperaatheid en verslaentheid het ontvou.

Die vrou het vertel dat sy en haar man beide ‘n goeie werk gehad het, maar dat hulle weens omstandighede hul werke verloor het.

Haar man is kort daarna oorlede en vandaar het dit net al hoe moeiliker geraak.

“Ek wil nie onder ’n boom bly nie, ek wil nie bedel nie en ek wil nie meer wonder waar die volgende stukkie brood vandaan gaan kom nie,” het die vrou, wat nie geïdentifiseer wil word nie, gesê.

Sy het Maandagoggend gesê dat sy gestaan en huil het omdat sy en die mense, wat saam met haar onder die boom bly, honger was.

“Ons het ’n dag laas geëet. Wanneer iemand dalk vir my R10 of R20 gee moet ons kos koop vir ses mense. Dis nie maklik nie.”

“Ek doen maar meeste van die bedel werk, want mense gee makliker vir ’n vrou as vir ’n man geld.”

“Ongelukkig is daar elke dag mans wat stilhou en aanneem dat ek ’n prostituut is. Baie van hulle raak lelike dinge kwyt. Dit sal ek nooit doen nie. Ek vergaan eerder van die honger.”

Die vrou vertel dat sy en haar verloofde (37) eers alleen onder die boom gebly het.

“Die ander mense het vanself gekom. Almal is maar bang om alleen in die aande te slaap,” het sy gesê.

“Wanneer ons in die aand slaap moet ons basies alles wat ons besit aan ons vasmaak of dit word gesteel.”

“Ek is in die aande regtig fisies en emosioneel uitgeput, maar dit is nie ’n goeie idee om te vas te slaap nie.”

Die vrou het gesê dat hulle wel rook, maar glad nie drink of dwelmmiddels gebruik nie.

Sy het vertel dat sy twee jong kinders het, maar sy het verkies om nie daaroor uit te wei nie. Volgens haar is hulle veilig.

Die reën wat die afgelope tyd gereeld geval het, help ook nie.

“Ons gaan soek maar skuiling by besighede, maar meeste van die mense jaag ons weg.”

“Alles word nat en in die aande is dit veral moeilik om onder ’n nat kombers te slaap.”

“Ons almal probeer los werkies kry, maar dit is nie altyd maklik nie.”

“Baie kere, wanneer ek in die aand gaan slaap, wonder ek of ek die volgende oggend gaan wakker word.”

Lees ook:

Gevriesde water laat bedelaars glimlag

Give food and not money

Related Articles

Back to top button