Editor's choiceLocal newsNews

Kind se hand oopgeruk toe vuurwerk dit tref (Waarskuwing: Foto onderaan berig kan sensitiewe lesers ontstel)

’n Gesin van die dorp se Desember vakansie het rampspoedig geeïndig toe ’n 15-jarige meisie op Oujaarsaand deur ’n vuurwerk getref is.

Chanté Smuts was saam met familielede op die Margatestrand toe die ongeluk plaasgevind het.

Ten spyte van ’n operasie wat sy verlede Dinsdag ondergaan het, is daar nog steeds geen duidelikheid of sy die volle gebruik van haar hand sal kan herwin nie.

Die dapper, vriendelike kind sien vandag (Dinsdag) weer ’n spesialis sodat verdere besluite oor haar hand geneem kan word.

Die ongeluk het net voor middernag gebeur toe talle mense op die strand saamgedrom het.

“Chanté en haar mense wou na die vuurwerke gaan kyk en die Nuwejaar inwag,” het haar ouma, Sandra Louwrens, aan die Herald gesê.

“Alles was rustig en kalm maar voor middernag het baie mense begin om vuurwerke op die strand te skiet,” het Chanté vertel.

“Ek het opgekyk, toe ek ’n mooi vuurwerk sien en was nog besig om ’n foto daarvan met my selfoon te neem.”

“Die volgende oomblik het ek gevoel dat iets my hand tref. Ek het geval en my hand in die sand gedruk.”

Ander familielede wat naby Chanté was is ook getref, maar niemand het so erg daarvan afgekom soos dié kind nie.

’n Bystander het sy hemp om haar hand gedraai en na ’n gewag op die ambulans het familielede haar self na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

Sy is na ’n hospitaal op Port Shepstone oorgeplaas en die volgende dag het haar gesin met haar teruggekeer om nader aan die huis vir haar die beste sorg te kry.

“Ek het geen gevoel in my hand nie. Dit voel net in die aande bietjie seer. Wanneer ek aan my vingers vat, voel ek absoluut niks nie,” het Chanté gesê.

Chanté, wat skoolgaan aan die Belvedere-skool, vir kinders met matige intellektuele gestremdheid, in Benoni sien uit daarna om môre (Woensdag) terug te keer skool toe.

Haar gesin en familie staan bankvas agter haar.

“Chanté is baie positief en ons almal hoop en glo dat haar hand heeltemal sal herstel,” het Sandra gesê.

Kyk hier na meer foto’s

Related Articles

Back to top button