CrimeEditor's choiceNews

Ek het moord in die man se oë gesien

’n 36-Jarige inwoner van die dorp en haar niggie (33) het onlangs benoude oomblikke beleef toe hulle op die N12 hoofweg, naby die Voortrekkerweg afrit, deur ’n gewapende man oorval en beroof is.

Die vroue het versoek dat hul name nie gepubliseer word nie.

Die inwoner van Brakpan-sentraal was op 2 Januarie saam met haar man in ’n voertuig oppad na Johannesburg.

Haar niggie en dié se man was in hul eie voertuig oppad na dieselfde bestemming.

“My niggie-hulle se voertuig het ’n pap wiel gekry en hulle het nie ’n spaarwiel gehad nie,” het die vrou vertel.

“Ek en my niggie het besluit om by die motor te wag terwyl die mans gery het om die wiel te laat reg maak. Ons het nie vir een oomblik gedink dat ons nie veilig sou wees nie,” het die vrou verduidelik.

“’n Man, met merke in sy gesig en ’n doek om sy kop, het ewe skielik te voorskyn gekom.”

“Hy het ’n wapen in sy hand gehad en die wilde kyk in sy oë sal ek nooit vergeet nie. Ek het moord gesien,” het die vrou gesê.

“Die man het ons gedreig en ons moes ons juwele afhaal. Ek het een ring probeer terughou, maar hy het dit ook gesoek. Hy het ook my niggie se handsak met ongeveer ’n R1 000 kontant en ander kosbare besittings gevat.”

“Daarna het hy bloot weggeloop.”

“Ons het op ’n stadium oorweeg om hom te probeer keer en op ’n manier seer te maak, maar hy het ewe skielik ’n skoot in die grond afgevuur en toe verdwyn.”

“Ons pogings om motoriste te kry om ons te help was ook verniet.”

“Na ’n lang ruk het ’n gesin stilgehou en hulp aangebied.”

“Ons mense het ook aangekom en ons het die voorval by die SAPD gaan aanmeld,” het sy gesê.

“Ons is saam met twee polisiebeamptes terug na die toneel en verklarings is geneem.”

“Die hele gedoente het baie lank geneem en ten spyte van die skok en groot skrik was dit baie frustrerend.”

“Daar lê oral groot pype langs die hoofweg en dit is die ideale weggkruipplek vir skelms.”

“Hierdie land van ons is nie meer veilig nie.”

  • Op Nuwejaarsdag is ’n egpaar van Benoni ook op die N12 geskiet.

Ludwig (48) en Su-Mari Pieterse (51) was oppad terug van vakansie toe hul voertuig naby die Voortrekkerstraat afrit onklaar geraak het.

Hulle is albei deur ’n man, wat net ’n selfoon geroof het, geskiet.

Lees ook: 

Couple shot after vehicle breaks down

Couple recovering after being shot on N12 

Related Articles

Back to top button