Editor's choiceLocal newsNews

Seun vertel van ouers se wreedaardige plaasmoord

’n Inwoner van die dorp is platgeslaan nadat hy Sondagaand die skokkende nuus ontvang het dat sy ouers wreedaardig op hulle plaas net buite Modimolle (Nylstroom) vermoor is.

Nadat Robert Lotter (47) van Brakpan-sentraal deur ’n familielid gekontak is oor die tragedie het hy op sy motorfiets geklim en van Brakpan na Modimolle gery.

Die prentjie wat daar op hom gewag het, is iets wat niemand behoort te beleef nie.

Sy pa, ook Robert (68), en stiefma, Una Lotter (64), is vermoedelik Sondag deur hul moordenaars oorval. Robert se lyk is enkele meters van die plaashuis gevind.

“Daar was beslis ’n struweling tussen my pa en sy moordenaars, maar hulle het uiteindelik sy dood veroorsaak deur hom met groot klippe teen die kop te slaan,” het Robert Jnr gesê.

Una Lotter se oorskot is eers Maandag later, na ’n groot soektog, in die afgebrande plaashuis onder ’n sinkplaat gevind.

“Ons sal waarskynlik nooit weet wat die presiese oorsaak van haar dood was nie,” het Robert gesê.

Die aanvallers het drank, wat in die kroeg van die groot plaashuis was, gedrink voordat hulle op die vlug geslaan het. Hulle het egter eers die huis en die vermoorde egpaar se voertuig aan die brand gesteek.

’n Niggie van Robert, wat redelik naby die plaas woon het gaan ondersoek instel nadat ’n ander buurman gesien het dat daar ’n brand was.

Die niggie, Mini van Zyl, het eers vir Robert se suster Ronel (48) gekontak, waarna Ronel vir Robert geskakel het.

“My ouers het sowat 20 jaar op die plaas gewoon,” het Robert vertel.

“Die dag toe hulle daar begin woon het was daar basies net mure, maar hulle het hard gewerk en die plek in ’n paleis omskep,” het Robert vertel. Hy het hartseer bygevoeg dat daar nou weer net mure oor is.

Die plaas was die afgelope drie jaar in die mark aangesien die egpaar na ’n aftree-oord wou verhuis. Die brand het die huis en die inhoud totaal in puin gelê.

“Daar is absoluut niks oor nie,” het Robert gesê.

Die moordenaars is nog op vrye voet.

’n Gedenkdiens vir die egpaar is Vrydag vanuit die NG Kerk Warmbad-Wes gehou.

Related Articles

Back to top button