Local sportSport

Vuurwarm wedren aksie

Renjaers het beslis nie diegene wat die hitte Saterdag, 10 Oktober, by The Rock Raceway trotseer het, teleurgestel nie en selfs die kwik ’n paar grade gelig met kookwater wedrenne.

Met nog slegs een byeenkoms oor vir die seisoen en klub kampioenskapspunte wat nog enige kant toe kan gaan in menige klas, spook jaers dit steeds enduit vir ’n plek.

Hannes Vermeulen #B38 in sy sterbelaaide Nissan Skyline V6, het getoon dat sy kleurskema niks met VSA rugby te make het nie en het in albei uitdunne die pap dik aangemaak en uiteindelik in die finale wedren van die gekombineerde Super Saloon/ V8 Flexi kragmeting met die louere weggestap.

Vermeulen moes als uithaal om voor Rieckerd Louwrens in sy #13 Flexi te eindig, maar na ’n lang seisoen kon Vermeulen met sy alomteenwoordige vriendelike glimlag die septer swaai.

Ook die twee jong dames Chante en Amore Wiese het weer hul staal gewys in hierdie hardebaard klas.

Dewald Kotze #19 van Kotze Gearbox en Diff en Shane Carlson #75 van Sextrader moes albei in die eerste V8 Sprint rondte die aksie vanaf die binnebaan dophou nadat hul motors onklaar geraak het.

Dit was egter net die aansporing vir die sterk en opwindende finaal wat sou volg.

Die oomblik toe die groen vlag val het Kotze en Carlson voet in die hoek gesit en was dit ’n adrenalien skouspel tot by die wenvlag.

Beide het hul V8 masjiene gedruk tot die uiterste, maar eindelik het Kotze die wen vlag ontvang.

Die 1600 Stockrod klas het ook goeie wedrenne en ’n verrassende wenner opgelewer. Adriaan Diedericks #223 in sy Golf het getoon dat uit- en aanhou op die ovaalbaan jou breed kan laat glimlag veral wanneer meganiese kabouters die kompetisie lamlê.

Op sy eerste keer uit na ’n rol by die SA’s kon “Take a tumble” Barend Jordaan #71 met sy nuutgeboude Datsun nie byhou nie en ook Jossie MacDonald #100 se Datsun moes noodgedwonge die baan verlaat toe sy enjinkap in die eerste uitdun rondte afgekom het.

Jordaan het moedig terugbaklei en die Datsun sal verseker by die volgende byeenkoms van sy nukke ontslae wees. MacDonald en Christo Holtzhausen in die #73 Golf het egter vir Diedericks laat werk vir sy eerste plek in dié klas.

In die 1660 gemodifiseerde klas het die ou hand, Frik Kruger #31, se Escort hom reeds in die eerste wedren van die aand in die steek gelaat.

Pieter van Staaden #202 het welliswaar koning gekraai, maar met slegs 11 punte verskil vir die klubkampioenskap gaan Kruger en Johan du Plessis #204 beslis nie nou opgee nie en wag daar beslis kompeterende wedrenne in November.

Gaan jare se ervaring in Kruger se guns tel of het Du Plessis wat dit vat om bo uit te kom?

Was dit nie vir Hein de Necker #84 wat appelkas omgekeer het in die Pinto klas nie kon dit vir die oningeligte gelyk het soos ’n uitdaging tussen Hooligan Racing en die bekende Gerhard Koekemoer Racing Development (GKRD).

Die ervare Koos Koekemoer #5 het die oorhand gehad bo Mauritz Nigrini #69, Jaco Nigrini #96, Johann Vorster #37 en nuweling tot die Pinto klas, Dolfie James #9.

Hierdie manne het gesorg vir ’n naelbyt wedren. Die Formule 2 Midget en Super Midget klasse het ook vir volop aksie gesorg.

Die SA2 van Willie Greyvenstein het net weer getoon dat gebore renjaers soos goeie wyn met die jare net beter raak terwyl Oom Willie die wenvlag in die Formule 2 omhoog geswaai het.

Werner Kotze #69 in die oudAndre Johnson Super Midget toon ook dat ’n wenkombinasie van ’n goeie kar en bestuursvernuf bykans onmoontlik is om te klop. Die wedren wat verseker die benoudste oomblikke opgelewer het, was onteenseglik die Formule N’s.

Nadat Johan Coetzee in sy Nitro Performance Opel weghol sukses in die eerste uitdun rondte gehad het, was Johan Deysel en Peter Lotter in hulle Golf geensins geneë om hom daarmee te laat wegkom nie.

Lotter het die toeskouers telkens laat snak na asem wanneer hy sy blou Golf laat skouer skuur het met die muur.

Hierdie drie top jaers was duidelik in beheer en die geringste fout sou beteken een van hulle verloor baan-posisie.

Die sportmansgees tussen hierdie jaers verdien egter ’n veel groter trofee as hulself.

Related Articles

Back to top button