CrimeNews

Rowers slaan motoris met baksteen

’n 28-jarige inwoner van die dorp het Donderdagaand benoude oomblikke beleef toe hy by ’n verkeerslig deur rowers oorval en met ’n baksteen teen die kop geslaan is.

Die man, wat gevra het dat sy identiteit nie bekend gemaak moet word nie, het gesê dat hy steeds nie kan glo wat gebeur het nie.

“Die een oomblik het ek nog by die verkeerslig gewag en die volgende oomblik het ek gedink my laaste oomblikke op aarde het aangebreek,” het hy gesê.

Volgens die man het hy ongeveer 9.30nm op die hoek van Mainreefweg en Mainweg stilgehou.

Daar was ander voertuie voor hom.

“Ewe skielik het vyf mans uit die veld nader gehardloop. Twee het aan my motor se deure begin pluk en geskreeu dat ek moet oopmaak,” het die man gesê.

Die ander drie het na die voertuig voor my gehardloop.

“Die een rower, by my voertuig, was gewapen en het gedreig om my te skiet indien ek nie die deure sou oopmaak nie.”

“Toe ek die passasiersdeur oopmaak het een van die rowers ingeklim en my met ’n baksteen teen die kop geslaan.”

Die booswig het toe voortgegaan om die jong man se skootrekenaar, wat voor op die vloer van die motor was, uit die sak te haal.

“Ek het nog vir hom gesê dat hy dit nie kan doen nie aangesien dit aan my werk behoort.”

“Die man wat die vuurwapen gehad het, het weer gedreig om my te skiet.”

Die twee rowers het net so vinnig as wat hulle verskyn het weer in die veld verdwyn.

“Ek het tussen die warboel deur gesien dat die drie mans, wat na die voertuig voor my gehardloop het, dié kar se ruit uitgeslaan het, maar meer as dit kon ek nie inneem nie.”

“Ek het so vinnig as moontlik weggery,” het die man gesê.

“Ons lees en hoor elke dag van sulke voorvalle, maar wanneer dit met ’n mens gebeur is dit asof jou hele wêreld op sy kop gekeer word. Dit is baie traumaties en onaangenaam,” het die man gesê.

Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.

Lees ook:

Man (25) wrestles with hijackers

Minnebron man (24) recovers at home after being shot

Man (51) beaten and dumped at school after hijacking

Related Articles

Back to top button