CrimeLocal newsNews

Lede van SAPD rand jong man glo met graaf en boutsnyer aan

Die pa van ‘n jong man, wat na bewering verlede week erg aangerand is deur lede van Brakpan SAPD, het aan die Herald gesê dat hy nie sal rus totdat die persone wat sy seun so verniel het verantwoording doen vir hulle dade nie.

Jaco Hanekom (44) het verlede week foto’s op sy Facebookblad geplaas van sy seun, ook Jaco (19), se beserings aan sy liggaam.

Op die foto’s kan gesien word dat Jaco se bene, rug en arms pimpel en pers is. Daar was, volgens sy pa, ook ‘n sny aan sy heup, en sy gewrigte was ook geskaaf.

Volgens Hanekom is sy seun verlede Dinsdag aangekeer omdat hy glo koperkabels gesteel het.

“My seun is na die selle by die Brakpan Polisiestasie geneem,” het hy gesê.

Hanekom het vertel dat Jaco glo later na ‘n kantoor geneem is, waar die beweerde aanranding plaasgevind het.

Volgens hom het drie polisiebeamptes sy seun daarvan beskuldig dat hy by motorfietsdiefstal betrokke sou wees.

“Hy het dit ontken en hy is ondermeer met ‘n graaf en ‘n boutsnyer (bolt cutter) aangerand,” het Hanekom gesê.

Sy seun het die volgende dag in die hof verskyn, maar die saak is uitgegooi.

Hanekom het sy seun verlede Donderdag na ‘n dokter geneem om ‘n volledige mediese verslag te bekom.

“Ek is in die proses om ‘n formele klag by die Brakpan SAPD in te dien,” het hy vertel.

“As my seun aan enige misdaad skuldig is dan moet die gereg sy gang gaan. Ek sal nie kriminele gedrag goed praat nie, maar niemand het die reg om enige persoon so aan te rand nie. Lede van die SAPD is nie bo die wet verhewe nie.”

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat, sodra daar ‘n saak gemaak is en daar ‘n saaknommer beskikbaar is, sal die saak soos enige ander ondersoek word.

Die normale prosedure sal gevolg sal word.

“Die saak word aan ‘n speurder oorhandig, wat die nodige verklarings bymekaar sal maak en ondersoek instel,” het hy gesê.

“Die saak word daarna voor die staatsaanklaer gebring, wie dan ‘n beslissing sal maak of vervolging ingestel moet word.

“Indien nodig sal departementele stappe dan ook geneem word.”

Related Articles

Back to top button