Editor's choiceLocal newsNews

Onwettige dobbelplekke verwoes jong vrou se lewe

‘n 53-Jarige pa van die dorp glo dat onwettige dobbelplekke in Brakpan daartoe bygedra het dat sy kind (26) die pad heeltemal byster geraak het.

Die man het versoek dat sy identiteit, asook die van sy dogter, nie bekend gemaak word nie.

Hy glo dat sy kind, wat die ma van ‘n kleuter is, nie in die dobbelstrik sou getrap het as die plekke nie so maklik toegangklik was nie.

“Daar is verkseie plekke op die dorp waar ‘n mens doodenvoudig net kan instap en dobbel. Hierdie plekke is ongelisensieërd en dus onwettig,” het die man gesê.

Hy vertel dat hy en sy dogter heeltemal van mekaar vervreemd geraak het.

“Ons het ‘n normale, liefdevolle verhouding gehad, maar dobbel en die euwels wat daarmee gepaard gaan het dit alles vernietig,” het die man gesê.

“My kind het ‘n goeie werk en ‘n goeie man gehad, maar dit is alles daarmee heen.

“Ons het al na haar uitgereik en vir haar hulp probeer kry, maar niks het gehelp nie.

“Ongelukkig hang daar ook slegte karakters by hierdie plekke uit en die een ding lei na die ander.”

Die man glo dat sy dogter nie die enigste een is wat deur onwettige dobbelhuise in die moeilikheid beland het nie.

“Dit gaan my verstand te bowe dat hierdie plekke op ‘n daaglikse basis kan voortgaan om besigheid te doen en in die proses mense se lewens te verwoes,” het hy vertel.

“Die argument sal wel daar wees dat sy dit oor haarself gebring het, maar ek voel dat die versoeking net te groot is.

“Daar is gelisensieërde en gevestigde plekke vir mense wat wil dobbel. Ons het nie die klein plekkies, wat mense in versoeking lei, onder ons neuse nodig nie.

“Boonop word minderjarige kinders ook by hierdie plekke toegelaat om te dobbel.”

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het gesê dat onwettige dobbelplekke in die dorp nie geduld sal word nie.

“Die publiek wat bewus is van sulke plekke word versoek om ons in kennis te stel,” het Joubert gesê.

“Ons sal baie streng optree teen die persone wat die plekke bedryf, veral in gevalle waar minderjariges toegelaat word om te dobbel.”

Die Brakpan Polisiestasie se telefoonnommer is 011 744-4940.

Related Articles

Back to top button