Entertainment

KYK: Ravenswood se Hartklop maak opslae in musiekbedryf

Die duo droom daarvan om eendag voldtyds musiek te maak.

Hartklop, wat bestaan uit Cornel Viljoen en Zanneli Casey van Ravenswood, skitter in die Afrikaanse musiekbedryf.

Met hul nuwe album Unusual Jy, wat pas vrygestel is, bring hulle ‘n vars klank en ‘n unieke benadering tot die bedryf.

Onlangs het hulle ‘n opwindende bekendstelling by Hennie’s Boksburg gehou.

Tydens die bekendstelling het die radiopersoonlikheid Thabiso Khambule op die verhoog met hulle gesels oor hul loopbaan en die nuwe album.

Cornel en Zanneli het verduidelik dat daar ‘n verskeidenheid liedjies op die album is, van rock tot kletsrym.
Oor hulle verwagtinge vir die album het Zanneli gesê: “Ons wil net vir mense wys wie ons is. Ons hoop mense kan iets daaruit vat.”

Van die duo se gunsteling liedjies op die album sluit in Los My en hulle weergawe van Carike Keuzenkamp se Pinocchio.

Cornel het gesê hy het gedink dit gaan moeilik wees om saam met Zanneli te werk toe hulle ‘n verhouding begin, maar hulle het steeds die wenresep.

“Ons verstaan mekaar,” het Zanneli bygevoeg.

Thabiso Khambule, Zanneli Casey, Cornel Viljoen en Zulekha Botha.

Hoe kry die duo dit reg om in ‘n uitdagende industrie te oorleef?
“Die industrie is moeilik, en ons werk hard om relevant te bly en iets anders te doen,” het Cornel gesê.

In die toekoms sal Cornel en Zanneli graag voltyds musiek wil doen.

Na hulle gesprek met Khambule kon gaste die musiekvideo van Hartklop se Pinocchio kyk.

Unusual Jy is beskikbaar op digitale platforms soos Spotify.

Lees Ook: Plaaslike duo wil hoop bring met nuwe ballade

Meer oor Hartklop
Die groep het in Julie 2022 ontstaan nadat Zanneli vir Cornel genader het om haar met haar musiek te help.
Hartklop het bekendheid verwerf vir hulle unieke klank en treffende lirieke.

Die duo se naam is deur een van hulle oorspronklike liedjies geïnspireer en vang die kern van hulle lewens en liefde vir musiek vas. Dit dien ook as ‘n simbool van hoop.

Hulle beskou die geleenthede om die verhoog met kunstenaars soos Bernice West, Spoegwolf, Juan Boucher en Snotkop te deel as groot hoogtepunte in hulle loopbaan.

JP Meintjies, Cornel Viljoen en Zanneli Casey by die Unusual Jy bekendstelling.
Cornel Viljoen, Zanneli Casey, Tanya en Mario dos Santos tydens die bekendstelling van Hartklop se nuwe album.
Zanneli Casey, Kyra Grobler, Francois Roux en Cornel Viljoen.

   

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button