Entertainment

KYK: Nuwe Afrikaanse komedie by Oosterlig verfilm

Die Fakulteit is geïnspireer deur die tipiese karakters van 'n hoërskool film.

Daar was ligte, kamera en aksie by Hoërskool Oosterlig toe die komedie, Die Fakulteit, onlangs by die skool verfilm is.

Die reeks speel af by die fiktiewe Hoërskool Oos, ‘n gemiddelde skool aan die Oos-Rand en handel oor die lewens van die personeel.

Die Fakulteit is geïnspireer deur die tipiese karakters van ‘n hoërskool film soos die bleeksiel, die rugbykaptein, die skool se feeks en die pliggie. Daar is besluit om hulle 10 jaar ouer te maak en hulle terug skool toe te stuur en in beheer te sit.

Hierdie reeks skop af op die eerste dag van ‘n nuwe kwartaal met die sport afrigters wat vassit oor die eienaarskap van waardevolle stuk sport memorabilia, die openbaring van ‘n liefdesdriehoek tussen die leerkragte en die hoof wat dit haar doel maak om rokers op die skoolgronde vas te trek.

Bibi du Preez vertolk die skoolhoof, Dr Reinette Naudé, in Die Fakulteit.

Die res van die seisoen sal jou ook terug na die skoolbanke laat verlang met episodes wat teen die agtergrond van groot gebeurtenisse soos die valentyndans, inter-skole, eksamens en selfs ‘n besoek deur die Departement van Basiese Onderwys afspeel.

Rolverdeling sluit in sangeres en komediant Bibi du Preez as die waansinnige skoolhoof Dr Reinette Naudé, en Leigh-Anne Fourie (voormalige Sterstatus aanbiedier) as haar psigopatiese sekretaresse, Annetjie Kitshoff.

Carl Trautman, Abel Knobel, Zöricke Snyman, Carien Botha, Tené Minderon en Tabitha de Jager is ook te sien in die reeks.

Kykers kan ook daarna uitsien om bekende gesigte te sien soos sangers Jo Black (as homself), Zoé (as die gemeenste meisie in Graad 11) en Vrede (as tuinier).

 

Ander gaskunstenaars sluit in Suid-Afrikaanse naelloper, Geraldine Pillay-Viret, wat die rol van die buurskool se hoof vertolk en TV- en radio-aanbieder Carla Mackenzie wat ‘n noodhulpkursus by Hoërskool Oos kom aanbied.

Die reeks is tydens die eerste week van die Desember vakansie by Oosterlig verfilm en het die hulp van 30 leerders ingespan wie voor en agter die kameras meer geleer het oor die filmbedryf. Dit is vervaardig deur Michael van Zyl en Marno Koen van CoolerBox Brothers en die regie is behartig deur George van Rooyen.

Van Rooyen het verduidelik die maatskappy is van Boksburg en hulle wou die reeks graag by ‘n plaaslike skool skiet. Hulle het volgens Oosterlig se skoolhoof Francois Nel, met die fliek ‘n wonderlike geleentheid vir die leerders gebied.

Agter die skerms tydens die verfilming van Die Fakulteit by Hoërskool Oosterlig.

“Daar is baie van ons leerlinge wat in drama belangstel wat goeie blootstelling gekry het.”

Die Fakulteit begin op 14 April op eExtra (Openview kanaal 105, Dstv kanaal 195) om 19:30. Herhalings is op Maandae om 21:55 en sal ook op eVOD beskikbaar wees.

Lees Ook: Mnr en Mej Oosterlig aangewys

Lees Ook:Oosterlig se matrieks blink uit

   

Related Articles

 
Back to top button