Entertainment

Plaaslike sangeres droom groot

Alba V is 'n internasionale platekontrak aangebied deur Upscale Records.

Alba Vorster, ook bekend as Alba V van Parkrand, is besig om haar stempel af te druk in die musiekindustrie op ‘n internasionale vlak.

Die 15-jarige het verduidelik dat musiek in haar familie is. Haar ma, Nadia Vorster, is immers die sangeres.

“Ek is al van kleins af baie lief vir musiek en toneelspel,” het sy vertel.
Alba V is ‘n internasionale platekontrak deur Upscale Records aangebied nadat die bekende musiekvervaardiger Manny Mijares haar tydens die wêreldkampioenskappe vir die uitvoerende kunste in Los Angeles sien optree het.

Die superster met die goue stem se eerste enkelsnit wat internasionaal bekend gemaak is, is Gone for Good, wat handel oor die einde van ‘n verhouding.
Nou het Alba ‘n tweede internasionale enkelsnit vrygestel, For Me That’s a No!

Alba V het die lirieke saam met Manny Mijares, Tyler Conti en Stefan Benz geskryf. Manny het ook die liedjie saam met Tuomo Korander en Tommi Vatanenen gekomponeer, en die liedjie in Los Angeles, Kalifornië, vervaardig.

Die liedjie handel oor ‘n meisie wat moeg is vir ‘n ander persoon se leuens en besluit om vaste grense te stel deur weg te stap.

“Eerlikheid en eg wees is vir my belangrik en ek glo daarin om op te staan vir wat reg is. Ek kan my sterk vereenselwig met die liedjie, en daarom hou ek daarvan om dit te sing,” het Alba V gesê.

For Me That’s a No! is pas vrygestel en die musiekvideo is by Fist Class Exotics en Casian Photography in Kalifornië verfilm. Manny Mijares en Imaginative Media Ent was betrokke by die produksie en konsepskepping van die video.

Sy stel ook binnekort, voor die einde van 2023, nog ‘n Afrikaanse liedjie vry, en sal ook in 2024 nog ‘n internasionale popliedjie vrystel.
Alba werk ook gereeld saam met Janie Bay en Deon Dee vir haar Afrikaanse liedjies.

Die kunstenaar verduidelik haar grootste musikale inspirasie is Taylor Swift.

Haar raad aan ander jong kunstenaars is: “Hou aan om hard te werk en doen waarvoor jy lief is. Nie almal gaan altyd van jou hou nie, maar jy moet net aanhou werk en aan die einde sal jy jou drome uitleef.”

Lees Ook: Plaaslike musikant stel nuwe enkelsnit vry

Lees Ook: Rudi Claase se hart en siel in nuutste solo-album

   

Related Articles

 
Back to top button