Phillip terug op die kassie

Die plaaslike akteur het meer vertel oor sy ervaring by Getroud Met Rugby.

Phillip Schnetler van Witfield is besig om behoorlik sy merk in die vermaaklikheidsbedryf te maak en is ook nou te sien in die gewilde sepie op kykNET, Getroud Met Rugby (GMR).

Kykers het die talentvolle kunstenaar leer ken as Francois Vosloo in kykNET se Suidooster, maar nou gaan hul ‘n ander sy van hom sien.

Die Advertiser het by hom gaan inloer om meer oor hom en sy nuwe karakter.

“My karakter in GMR is bietjie anders as wat mens gewoonlik in‘n Afrikaanse sepies sal sien. Ashton is ‘n drag queen wat begin uitgaan met die kaptein van die Stryders-rugbyspan, Ryno Roberts (Adrian Steyn).

Phillip Schnetler (Ashton) en Stephanie Baartman (Bibi) op Getroud Met Rugby se stel. Foto: Verskaf

“Ashton se alterego se naam is Asher. Daar is ongelooflike mooi tonele wat ons gedoen het in en uit drag om mense te laat probeer verstaan wat dit is om ‘n drag kunstenaar te wees.

“Dit laat jou dink aan hoe ‘n mens sulke situaties met mense kan en moet benader. Verder kan ek nie baie van my karakter se storielyne weggee nie, maar julle sal maar moet kyk wat hy aanvang,” het Schnetler oor sy karakter vertel.

Hoe het jy voorberei vir jou rol?
“Ek is self ‘n drag queen, wat dit vir my makliker gemaak het om voor te berei vir hierdie spesifieke rol.
“Ek dink die karakter is baie soos ek is, met ‘n bietjie meer kamp houding as wat ek het. So die voorbereiding lê maar in die feit dat jy jou woorde elke dag ken en net luister na die direkteur en hul visie.”

Wat het deur jou kop gegaan toe jy uitvind dat jy Ashton gaan vertolk?
Ek het oorsprongkilk ‘n oudisie geloop vir ‘n ander rol, en het dit toe nie gekry nie. ‘n Paar maande na die tyd het Deon Opperman my persoonlik gebel en gevra of ek sou belangstel om ‘n nuwe liefdesbelangstelling vir Ryno te speel in GMR. Ek het natuurlik van my stoel afgeval en dadelik ja gesê. Hy het toe op my sosiale media gesien ek is ‘n drag queen.”

Was dit vir jou uitdagend om Ashton te speel in vergelyking met Suidooster se Francois?
Francois van Suidooster was baie jonk en net ‘n mannetjie was onlangs sy skoolloopbaan voltooi het. Hy wou net kuier, waar Ashton baie meer volwasse is en weet wat hy wil hê. Ek kan nie se die een se bedoelinge was beter as die ander een nie. Francois was net naïef en het nie rerig ooit kwade bedoelings gehad nie. En kan dit nie sê van Ashton nie.

Is daar enige agter die skerms staaltjies wat jy kan deel?
Die ander akteurs was ongelooflik toe ek in drag was. Hulle het foto’s en videos geneem en almal het belanggestel in my reis. Adrian was wonderlik! Dit was een van die lekkerste dinge om my tonele saam met hom te kon doen.

Agter die skerms by Getroud Met Rugby. In die foto is Marijke Coetser (Maryke), Stephanie Baartman (Bibi), Phillip Schnetler (Asher, oftewel Ashton), Melissa Massym (Evoniqué, oftewel Nesie) en Claudia Jones (Candice). Foto: Verskaf

Kan jy met jou karakter vereenselwig?
Ek dink in sekere aspekte, maar daar is net so baie verskille tussen ons. Sy motiverings en doel in die lewe is nie dieselfde as myne nie, alhoewel ons leefstyl baie dieselfde is. Ek sou glo dat ek ‘n bietjie van ‘n beter mens is.

Wat is vir jou die hoogtepunt van jou tyd by GMR?
Om nuwe mense te kom ontmoet en om die eerste keer in Afrikaanse sepie op kykNET ‘n drag queen te kon speel. Ek hoop mense leer baie by die karakter se reis.

Jy het saam met gesoute akteurs soos Altus Theart en Werner Coetser gewerk? Hoe was daardie ervaring vir jou?
Ek ken beide van hulle al ‘n paar haar maar dit was rerig lekker om hulle te kon leer ken in ‘n professionele hoedanigheid. Ek het al paar keer saam met Marelee van der Merwe (Kristien) gewerk en dit was goed haar weer te sien. Met Covid-19 het mens regtig kontak verloor met ander in die industrie. Dit was lekker om weer bietjie met mense to kon opvang.

Voel jy nou soos ‘n “celebrity”? Herken mense jou nou op straat?
Glad nie. Ek dink nie mense erken my regtig nie, wat dalk ‘n goeie ding is. Die maskers help beslis ook.

Was jou sangloopbaan op ys weens die tyd wat jy op die GMR-stel moes spandeer?
Nie heeltemal nie, maar nou dat ek klaar geskiet is aan GMR is ek besig met my tweede enkelsnit. Ek is regtig baie opgewonde om dit later die jaar te kan deel.

Wat wil jy graag eendag bereik in jou loopbaan?
Ek wil ongelooflik graag ‘n musiekblyspel in die West End of selfs Broadway doen. Dit sal altyd my eerste liefde wees. Natuurlik wil ek ook meer doen in die Afrikaanse mark. Dalk ‘n vollengte film en so paar Afrikaanse en Engelse reeks.

Is daar iets wat jy wil byvoeg wat jy dink belangrik is?
Mense moet altyd onthou dat die karakters in stories ook regte mense is wat altyd die komentaar gaan lees op die sosiale media. Dink hoe jy sou voel as mense snert oor jou skryf op ‘n publieke platform.

GMR is weeksaande om 18:00 op kykNET, Dstv-kanaal 144, te sien.

Lees Ook: Phillip stel nuwe enkelsnit vry

Lees Ook: Louw Breytenbach to extend his Gate of Hope mental health awareness initiative

   

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version