Rubriek: Gepraat van … Outydse boerekos bly maar die lekkerste

Met kuiers en kos gebruik ons ook baie van ons sintuie.

Onlangs kuier ek saam met ’n paar familielede op die stoep van my tante-hulle se huis.

Ons slaan die sambreel op, want die son bak ons warm. Die gesprek draai by kos en almal raak nostalgies oor hul gunsteling outydse boerekos en poedings, soos ’n lekker tamatiebredie in die winter en ’n gebakte poeding.

My ma het toe ek kind was vir ons menige Sondagaand melkkos gemaak – dit is een van my mooiste kosherinneringe uit my kinderjare.

Na afloop van die kuier belowe ek my tante ek sal vir ons bobotie met geelrys maak vir Sondag se ete.

Ek vaar die winkels in met my resepte en kry al die nodige bestanddele. Eerste begin ek met die geelrys en daarna maak ek twee boboties. Die hemelse geure van kerrie en borrie trek deur die huis.

LEES OOK: Rubriek: Gepraat van … ek het gaan asem skep by die see

Vir Sondag se poeding besluit ek op sagopoeding. Ek krap in my ma se boks resepte rond vir haar resep. Vir die eerste keer in my lewe kook ek sago en verwonder my aan hoe deurskynend die balletjies word. Ek klits eierwitte tot styf en blink en skep dit bo-op die sago in ’n groot bak.

O ja, moenie vergeet van die klontjies appelkooskonfyt nie!

Die afgelope Sondag pak ek al my kos in ’n mandjie en vat die pad na my tante toe. Ons eet tot ons lê. Knuppeldik van die heerlike kos. Maar nie lank nie, toe praat ons alweer oor gunsteling eetgoed.

Ek sê vir haar ek is nou al baie lank lus vir regte egte brosbrood. Sy het ’n resep sê sy. Sy weer wil romerige fudge hê en so gee sy my ook ’n wenresep daarvoor. Dit is my plan om komende naweek hierdie twee lekkertes te maak.

Ek sal maar net ekstra vêr moet stap om al die kilojoules af te werk.

Onlangs het ek hierdie raakgelees. Wat is dit wat mense saambind? Vra enige persoon en die eerste ding wat hulle moontlik sal sê is familie, gevolg deur kos. Dis twee kragtige faktore wat mense saambind.

Rondom ’n tafel of ’n braai – kos herinner ons aan ons grootwordjare. Met kuiers en kos gebruik ons ook baie van ons sintuie: die geure, die geluide, om terselfdertyd ’n goeie luisteraar te wees.

Ek wens jou heerlike kuiers met outydse boerekos saam met jou familie toe.

LEES OOK: #Rubriek: GEPRAAT VAN … Die titaniese stryd van die twee Goliats

Ilse Watson is ‘n subredakteur by Caxton Local Media.

   

 

Exit mobile version