Rubriek: Gepraat van … ’n Yskastert vir my verjaarsdag

My ma het ’n heerlike Cremora-yskastert gemaak. Nataniël noem dit ’n nagmerrie tert.

Komende naweek is dit my verjaarsdag en ek het besluit om dit met ’n yskastert te vier.

As gevolg van die grendeltyd is al my verjaarsdagplanne in die wiele gery en sal ek nie by my familie kan gaan kuier nie. Dit is nogals vir my baie hartseer, maar ons moet eerder gesond bly, né?

Yskasterte is seker bedoel vir die somer, maar ek is nou al weke lank lus vir dié lekkerte. In Suid-Afrika is yskasterte so deel van ons lewe as wat biltong is.

Gewoonlik maak ek vir my kollegas en familie my gunsteling, die pepperment yskastert. Ek hou ook baie van die ene wat met wit en pienk malvalekkers gemaak word. Terloops, as ek hierdie tert maak gebruik ek die gewone grootte malvalekkers wat ek dan met ’n skêr in kleiner stukke sny.

Dit is later so ’n taai gemors dat die skêr nie meer wil werk nie en ’n paar keer gedurende die proses gewas moet word sodat ek al die lekkers kan opsny. Maar daai gesukkel is nogals die moeite werd.

My ma het ’n heerlike Cremora-yskastert gemaak. Nataniël noem dit ’n nagmerrie tert. Hy het ’n renons aan enige tipe basaar tert wat dril en hy verwys gereeld na aaklige terte wat soos Maizena-bomme lyk.

Bekende sjef Herman Lensing sê weer hy het geen probleem om te erken dat hy mal is oor ’n Cremora-tert nie. Hy maak ’n witsjokolade Cremora-tert en noem dit die koningin van terte. Hy maak ook ’n melksjokolade Cremora-tert wat hy met mooi bessies voorsit. Baie stylvol inderdaad.

In my soektog na die perfekte resep sien ek resepte vir pynappel yskastert, swartwoud-maaskaas yskastert (dit klink na te veel werk), piesang-en-vla yskastert (ek hou nie van piesangs in ’n tert of koek nie),’n suurlemoen yskastert en nog ’n paar vreemde kombinasies.

Maar toe kry en ’n gloeilamp oomblik en ek onthou van die heerlike grenadella yskastert wat ’n kollega verlede jaar met haar verjaarsdag vir ons gemaak het.

Die perfekte soetsuur kombinasie.

Ek bedel die resep en besluit om dit die afgelope naweek uit te toets. As ek gaan tert maak vir my verjaarsdag moet dit mos nou die ware Jakob wees!

Ek het geëet tot ek gelê het. Hierdie romerige kombinasie van grenadella yogurt, kondensmelk en suurlemoenjellie skop die koningin van yskasterte van sy troon af!

LEES OOK: Oos-Randse Sakevroue gereed vir 2021

LEES OOK: Naweek van avontuur stel passie om renosters te bewaar ten toon

   

Exit mobile version