EntertainmentLifestyle

Plaaslike sangeres stel hierdie jaar nuwe Afrikaanse popmusiek album vry

Dominique Burger is opgewonde oor haar nuwe album wat teen die einde van die jaar vrygestel gaan word

Ten spyte van die pandemie is plaaslike sangeres en liedjieskrywer Dominique Burger besig om diep spore in die musiekbedryf te trap.

Sy is dalk bekend vir haar optredes by Live@Wildebest en het uitgeblink in sangkompetisies soos Idols SA en Supersterre, maar tans is die talentvolle musikant besig om haar tweede CD te voltooi.

Die 29-jarige vertel dat dié album heeltemal anders gaan wees as haar vorige een, Hart op my mou, wat hoofsaaklik oor die herstel van ‘n gebroke hart gaan.

“Ek is verskriklik opgewonde en trots op my nuwe CD, dit voel soos my baba. Ek kan nie op hierdie stadium iets verklap nie. Al wat ek mag sê dat is dat dit uit Afrikaanse popmusiek bestaan en dat my hart in die album is.

“Red Fox Music help my om die CD te vervaardig en dit voel of elke liedjie wat ons opneem beter is as die vorige een. Daaroom het ons nog nie besluit wat die titelsnit van die album gaan wees nie,” het die sangeres van Freeway Park aan die Advertiser gesê.

“Ek skryf van my liedjies self en ‘n paar bekende skrywers het ook vir my liedjies geskryf. Ons wil probeer om nie ander kunstenaars se musiek op te neem nie. Om jou eie liedjies te sien kan mens soms kaal en weerloos laat voel. Almal weet nou presies hoe ek voel en wat in my hart aangaan. Dis nou meer as net ‘n liedjie vir my,” het sy gesê.

Sy het verduidelik dat sy net soms ‘n idee kry wat sy dadelik moet neerpen. “Ek sal byvoorbeeld in die aande voor ek gaan slaap net ‘n gedagte kry en dan skryf ek dit neer. Soms sal ek ook die idee op my foon opneem of ‘n stemboodskap na my ma toe stuur.”

Vir die blondekop was die grootste uitdaging van die inperking die feit dat sy nie meer haarself op die verhoog kan uitleef nie.

“Ek het dit geniet om tyd saam met my familie te spandeer, maar ek kan dit nie hanteer dat ek nie meer kan optree nie. Ek mis dit om tussen mense te wees. Die pandemie het ook ‘n negatiewe uitwerking op my finansies aangesien al my optredes tot verdere kennisgewing uitgestel is.

“Nou doen ek aanlyn konserte op Faceboek gedurende die week, asook ‘n praise and worship op Sondae,” het sy bygevoeg.

Dominique se liefde vir musiek is geïnspireer deur Patricia Lewis en Britney Spears. Nou is sy byna 10 jaar in die bedryf.

“Elke optrede is vir my ?n hoogtepunt. Ek is so dankbaar dat ek kan doen waarvoor ek so lief is. Al wat ek wil doen is sing.”

Sy vertel dat sy baie geleer het deur deel te wees van sangkompetisies soos Idols en om oorsee te gaan sing. Tog erken sy dat dit nie net maanskyn en rose is nie.”Die musiekbedryf is beslis nie vir sussies nie. ‘n Mens moet leer hoe om kritiek te hanteer en iets daaruit te leer, want ander gaan jou oordeel,” het sy uitgewys.

Sy kyk met aansien na Riana Nel, maar vertel dat elke kunstenaar iets het wat haar inspireer. In die toekoms sal sy graag ‘n gospel album wil uitreik omdat “ons almal Jesus nodig het, veral nou”.

Domique het ook ‘n passie daarvoor om ander mense mooi te maak en is lief daarvoor om kunstige projekte aan te pak.

ALSO READ: 

Plaaslike musikant het groot drome

ALSO READ: 

Talentvolle Tobi Jooste vemaak Oosrand Sakevroue

Related Articles

Back to top button