EntertainmentLifestyle

#Huldeblyk: Geniet Gé Korsten in die gemak van jou eie sitkamer

Vier die lewe, loopbaan en fenomenale talent van Gé Kortsen in die gemak van jou eie sitkamer

Lefra Poduksies gaan hierdie naweek hulde bring aan Gé Korsten deur Gé Sing: Hoor my Lied digitaal uit te saai.

Dis vanjaar 21 jaar sedert die legendariese stem van Suid-Afrika se eerste ware superster, Gé Korsten, vir altyd stil geword het, en sy lewe, loopbaan en fenomenale talent word gevier in Frans Swart se huldeblykproduksie.

Hierdie produksie is verlede jaar voor ‘n gehoor by die Sun Arena in Pretoria opgeneem en kom na jou sitkamer toe aanlyn op 17 Julie om 7nm.

Gé Sing: Hoor my Lied word aangebied met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wines, Savvy Holdings, Q2V Producions en Renegades Removals.

Frans Swart, regisseur van Gé Sing: Hoor my Lied, sê dit is vir hom ‘n besondere groot voorreg om hulde te bring aan hierdie ikoniese sanger en kunstenaar.

“As daar ooit ‘n superster in Suid-Afrika was, dan was dit Gé! Ek was bevoorreg om Gé persoonlik te kon geken het, want as jong kameraman by SAUK-TV was ek kameraman vir ‘n paar seisoene van die gewilde TV-program, Gé Sing. Daarna het ons baie goeie vriende geword en het ek die mees ongelooflikste respek vir hierdie kunstenaar ontwikkel. Hy was nie net sanger nie, maar hy was ‘n mentor vir soveel mense in die bedryf. Hy was gesinsman, adminstrateur, vriend, akteur, sanger, orator, vegter vir die opera en legende.”

In die produksie Gé Sing: Hoor my Lied word oudiovisuele argiefmateriaal teen ‘n reuse skerm geprojekteer om die gehoor ‘n oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ‘n vars manier herinterpreteer deur van die land se voorste kunstenaars, waaronder Louis Loock, Arina de Witt, Jannie Moolman, die PJ Twins, Taschè van TV se The Voice-faam, Scott Engelbrecht en volle orkes onder leiding van Chanie Jonker.

Korsten is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland gebore. Hy was die jongste van agt kinders en het in 1936 as negejarige seun saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het sy loopbaan as operasanger begin en was reeds op 20-jarige ouderdom lid van die SAUK se kore. Hy het in 1952 stemopleiding ontvang aan die South African College of Music in Kaapstad onder leiding van Adelheid Armhold.

In 1955 het hy na Pretoria verhuis waar hy verdere opleiding onder leiding van Albrecht Lewald ontvang het. Hy was in dieselfde jaar ook een van die stigterslede van die Pretoria-operagroep. Sy operadebuut maak hy in 1956 as Canio in Pagliacci. In 1962 word ‘n oorsese studiebeurs aan hom toegeken waarna hy in 1963 in Europa onder Judith Hellwig verdere opleiding ontvang en ook die geleentheid kry om in operas in Europese stede soos Wenen en München op te tree.

In 1976 het hy die Nederburgprys vir Opera ontvang vir sy hoofrol in Andrea Chénier. Korsten het nege goue plate agter sy naam gehad. Hy het tydens sy loopbaan, wat oor 40 jaar gestrek het, 58 albums opgeneem. Hy het ses Sarie-toekennings ontvang en in 1979 ‘n Artestoekenning vir sy TV-program Gé Sing.

Hy het ook die rol van Walt Vorster in die sepie Egoli gespeel. In 1985 is hy as hoofdirekteur van Kruik in Kaapstad aangestel en het die pos tot in 1989 beklee. Korsten is op 3 Mei 2008 tydens die 14de Suid-Afrikaanse Musiektoekennings vereer vir ‘n leeftyd se bydrae tot plaaslike musiek.

Gé Sing: Hoor my Lied beloof  ‘n aand se elegante vermaak, geskik vir die hele gesin, wat enersyds werk as vermaak, maar andersyds ook die nalatenskap van ons baanbrekers weer in fokus bring.

Bespreek sommer nou vir Gé Sing: Hoor my Lied by Computicket 0861 915 8000 of by www.computicket.com

Vir meer inligting, besoek www.lefra.com.

LEES OOK: 

Wen kaartjies na Lefra se opvoerings by Carnival City

LEES OOK: 

Matrics can get to grips with Fiela se Kind in an online analysis and performance session on Wednesday

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button