#Kelderkonsert Sondag: Helenè Bester sing Nana Mouskouri aanlyn

Omdat kaartjies vir die hele gesin so goedkoop is, is daar ook 'n donasie-opsie as jy bespreek om kunstenaars in Suid-Afrika te help

Helenè Bester sing Nana Mouskouri word op 24 Mei om 5nm as een van Lefra se Kelderkonserte regstreeks aanlyn uitgesaai.

Kaartjies kos slegs R55 per huishouding om die volle produksie in jou eie sitkamer te geniet. Besprekings kan by www.itickets.co.za gedoen word.

Omdat kaartjies vir die hele gesin so goedkoop is, is daar ook ‘n donasie-opsie as jy bespreek om kunstenaars in Suid-Afrika te help.

Bester se produksie is verlede jaar onder groot toejuiging tydens die Oppiwater Kunstefees bekendgestel. Die teks en regie word deur Frans Swart, van Lefra Produksies, hanteer en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser, ook Helenè se begeleier, tydens die Mouskouri-vertonings.

LEES OOK: 

Laerskool Baanbreker kraai koning by Revue 2018

Helenè Bester sing Nana Mouskouri word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Featherview Oogkundiges, Fleur by Julene Rokebrand, Van Loveren Wines, Ambassador Execudrive, Savvy Holdings en Renegades Removals aangebied.

“Ek het nog altyd gehoop om ‘n Nana-vertoning te doen. Ek is mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword,” vertel Helenè.

“Ons het eintlik gedink dat sy ‘n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my om die vertoning te doen. Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer 10 jaar gelede nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.”

Helene sê sy het Nana se musiekvideos bestudeer.

“Ek het gekyk hoe sy op die verhoog beweeg, wat sy met haar hande doen en hoe sy ‘n gehoor aanspreek. Mens wil dit tog so geloofwaardig as moontlik maak.”

Dit was vir Helenè ‘n opwindende besluit om hulde te bring aan Nana Mouskouri.

“Nana is vandag nog net so gewild omdat mense van my ouderdom na haar musiek geluister het. Ons laat haar musiek voortleef. Sy het 300 miljoen plate verkoop en kan vyf tale praat en sing. Dit maak dat sy in soveel lande superbekend is,” sê Helenè.

“Sy is ‘n liefling onder haar aanhangers, sy’s nederig en spring nie op en af om haar musiek aan jou bekend te maak nie. Sy het bekende liedjies bekender gemaak en ek moet sê sy het treffers gemaak van elke lied wat sy opgeneem soos Cucurrucucu, Only Love, White Rose of Athens, Song of Liberty en vele meer.

“Natuurlik is Nana se dogter se naam ook Helenè en word presies soos my naam uitgespreek. Dit wys jou – dalk is sy en my ma famlie.”

Regisseur Swart stem saam. “Toe Helenè my oor hierdie projek nader,was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helenè om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri.”

LEES OOK: 

Baanbreker se revue seëvier by kompetisie

Exit mobile version