Leer ken Lymari as Mooi Annie in plaaslike verhoogstuk

Maskerteer Produksies se vlagskip produksie, Mooi Annie, is ’n eenvroustuk wat handel oor die innerlike struweling van ’n jong Hollander wat haarself in die Kaap Kolonie bevind.

Dit vertel die verhaal van Wolraad Woltemade, die byna vergete historiese Suid-Afrikaanse held, die Kaapse Noordwester-mannetjies-wind en ’n verliefde meisie wat lus is vir trou, maar beslis nie vir kook nie!

Mooi Annie debuut vanjaar by die Live Arts Little Theatre Toneelfees op 4 en 10 Oktober.

Lymari Alberts, wat die rol van Annie vertolk, is ondermeer ook bekend vir haar rolle in stukke soos Rent the Musical en Die Kulkunstenaar, die Koningin en die Kokkenonnetjie, wat teaters en kunstefeeste landswyd betower het.

Maar haar groot passie is die beeldende kunste en teater love affair.

“Die verhoog is my canvas, ek wil vir die gehoor ’n skildermooi beeld gee wat altyd by hulle sal bly,” het Alberts gesê.

Alberts het in Bloemfontein, in die hartjie van die Vrystaat, grootgeword en haar BA Graad in Drama en Teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat, in 2013, verwerf.

Sy wou nog altyd ’n loopbaan in die kunste bemeester.

Sy vertel dat die mees uitdagende produksie waaraan sy al gewerk het, was Rent the Musical.

“Ek was nog in my tweedejaar toe ek ’n rol in hierdie professionele produksie losgeslaan het. Ek het voor dit nog nooit in my lewe ’n noot harder as ’n poep op ’n kerkbank gesing nie,” het sy gesê.

“Ek moes bitter vinnig leer om skaamteloos te sing. Die jaar daarna was ek sommer NG Kerk Heuwelkruin se voorsanger.”

Die regie van Mooi Annie word deur Jan Brink behartig.

“Toe Lymari my genader het om die show te direct, kon ek nie anders as ja sê nie,” het Brink gesê.

“Ek dink dis die eerste keer wat ek so vinnig ja gesê het vir iets. Die teks is uitstekend. Die aktrise is uitstekend. Ek was bang dat ek nie uitstekend genoeg sou wees nie.”

Brink is ’n dramaturg wat homself nie haas as dit kom by perfeksie nie.

Die konsep vir Mooi Annie het gekom toe Alberts een plaasvakansie afgekom het op haar ouma se voorgeskrewe matriek boek – ’n oud-Hollandse roman, Mooi Annie of De Jonge Schipbreukelinge.

Sy het onmiddelik verlief geraak op die verhaal van Annie en het inderhaas met die idee na skrywer Berden du Toit gegaan.

Saam het hulle die teks gekonseptualiseer en die wêreld van die Kaap Kolonie in die 18de eeu in ’n beeldskone litarêre kunswerk omskep.

“Met die eksperimentele stel en Lymari se spel, kan Mooi Annie ’n hartroerende en meelewende produk wees,” het Brink gesê.

“Dit is ’n mooi storie. Net ’n mooi storie. Wat jou laat dink … en voel.”

Vir meer oor die kreatiewe span, besoek hulle op Facebook of Twitter, @Lymari_alberts, @janbrink89 of @Maskerteer_JHB. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version