Lank lewe die boereworsgordyn! Liedjieskrywer koester nog groot drome

Alhoewel Agter die boereworsgordyn nie as die algehele wenner van Afri-Visie se Skryf ’n Treffer-kompetisie weggestap het nie, lê daar nog groot dinge vir sanger Nico de Beer, van Boksburg, voor.

Skryf ’n Treffer is ’n liedjieskryfkompetisie waar die liedjie koning kraai en die sanger die mondstuk is.

Daar word gesoek na vars, nuwe, oorspronklike klanke en, natuurlik, die volgende groot treffer in Afrikaans.

De Beer se lied, Agter die boereworsgordyn, was een van die Top 26 finaliste en hy het die geleentheid gehad om ’n musiekvideo daarvan op te neem.

Ongelukkig het die liedjie nie na die Top 10 deurgedring nie, maar De Beer het wel baie lesse uit die kompetisie geleer.

“Ek het vertroue gekry in my liedjieskryf vermoë,” het die liedjieskrywer en musikant gesê.

Drie van sy liedjies is gekies om deel van die kompetisie te wees, waarvan een natuurlik deel was van die Top 26.

“Ek sal volgende keer nie ’n brandewyn en Coke liedjie inskryf nie, maar eerder iets bietjie dieper,” het hy vertel.

De Beer het die idee vir hierdie lied gekry toe iemand hom eendag vra waar hy woon.

“Toe ek sê ek is van Boksburg, het die persoon geantwoord: ‘Oh you’re from behind the boerewors curtain’,” het De Beer gesê.

Vir hom beteken die liedjie net om trots te wees op jou oorsprong en waar jy vandaan kom.

De Beer se beste ervaring tydens die kompetisie was juis die beplanning en opneem van die musiekvideo van Agter die boereworsgordyn.

“Dit was groot pret gewees; die crew en director (Loedi van Reenen) was uit die boonste rakke,” het hy gesê.

“Ek het baie lekker saam met hulle gewerk en gaan verseker in die nabye toekoms weer aan hulle deur klop vir die skiet van ons volgende video.”

Volgens De Beer het die beoordelaars ’n baie goeie reaksie op sy liedjie gehad en het ook aanklank gevind by die boodskap daarvan.

“Pierre Greeff, van die Heuwels Fantasties, was veral mal daaroor; ons het ongelukkig nooit kommentaar gekry oor wat hulle van die video dink nie.”

De Beer was heeltemal “blown away” deur die publiek se reaksie op Agter die boereworsgordyn.

Hy het ’n hele paar Engels sprekendes ontmoet wat hierdie Afrikaanse lied kon sing.

“Mense wat ek van geen kant af ken nie het my gestop en dele van die liedjie gesing; dit was nogal wonderlik,” het hy vertel.

Volgens De Beer het hy tonne liedjies wat hy moontlik kan inskryf vir die volgende Afri Visie-kompetisie, maar hy wil eers vir die res van die jaar daarop gekonsentreer om sy album klaar te skryf.

Indien iets opduik wat hy voel dalk ’n kans sal staan in die kompetisie, sal hy dit nog ’n kans gee.

De Beer moedig aspirerende liedjieskrywers aan om in te skryf vir die volgende Afri Visie-kompetisie.

“Dit is regtig ’n baie verrykende en opbouende proses en ek weet vir ’n feit die kompetisie gaan net groter en beter raak, so stof daai kitare en klaviere af en begin skryf!” – @IschkeBoksburg

Stem vir ‘Agter die boereworsgordyn’ in Afri-Visie-kompetisie

 

Exit mobile version