Frik vier 40 jaar by Boksburg Atletiekklub

Hy kyk op na die Suid-Afrikaanse atleet René Kalmer.

Frik de Preez (63) vier vanjaar sy 40ste jaar by die Boksburg Atletiekklub, en hy is steeds nie van plan om sy hardloopskoene op te hang nie.

Die atleet het verduidelik dat hy in 1981 begin hardloop het en in 1982 by die plaaslike atletiekklub aangesluit het.

“Ek het aanvanklik nie geweet hoe dit is om te hardloop nie, maar ek het besluit om dit te probeer en het daarvan gehou. Nou is dit al deel van my lewe. Ek sal seker nooit ophou hardloop nie,” het du Preez verduidelik.

Nou spog die Freeway Park-inwoner met oor die 2 000 medaljes en ongeveer 100 trofeë. In sy loopbaan het hy al 2 273 wedlope aangepak.

“Ek het al oral in die land aan verskillende wedlope deelgeneem soos die Comrades Marathon, Two Oceans en Om die Dam. Van my hoogtepunte is dat ek al 22 Comrades voltooi het en in 2017 die Capitol Classic wedloop gewen het.

“Ek het in 2012 ophou Comrades en Two Oceans hardloop, maar ek is steeds deel van die Boksburg Atletiekklub.

My doelwit is nou om die Om die Dam op die 30ste Junie by Hartbeespoort Dam te voltooi en parkruns te doen. Ek oefen nou hard om fiks te word,” het hy verduidelik.

Du Preez se raad aan aspirant-atlete: “Jy moet dit maar net probeer, nie almal hou daarvan nie.”

Lees Ook: New committee for Boksburg Athletic Club

Lees Ook: 113 Boksburg Athletic Club members preparing for new Comrades Marathon date

   

Exit mobile version