LettersOpinion

Impala Park in ‘n gemors gelaat

Alicia du Preez, van Impala Park, skryf:

Die munisipaliteit het ‘n paar maande terug slote reg rondom Impala Park gegrou, om een of ander iets te lê.

Maar die werkers het die slote nie eers behoorlik toegegooi nie, wat nog te sê reggemaak nie.

Nou kan jy van geen kant af inkom in Impala Park sonder om in ’n sloot in te ry en jou kar te beskadig nie.

Wanneer gaan hulle ons paaie kom regmaak, want niemand gaan vir die skade aan ons voertuie betaal nie?

Dit is uiters belaglik om te dink niemand neem verantwoordelikheid vir ons paaie nie, en dit nadat ons net altyd moet uithaal en wys!

Kan die metro tog nie paaie kom regmaak nadat hulle dit opgemors het nie?

Dan noem ons nie eers al die gate oral op ons paaie nie. Want hoekom moet hulle dit regmaak? Mens lyk soos ‘n dronkie net om al die gate te probeer misry.

Wat gebeur as die reënseisoen kom? Ry maar deur die gate! Want jy kan nie die kraters sien nie.

‘n Mens kan visvang in van die gate in ons paaie, en selfs lekker swem. Dis lagwekkend.

Dan het ek al op 13 Mei ons straatlig aangemeld, wat op ‘n gevaarlike hoek in Impala Park geleë is. Die straatlig is nogsteeds nie reggemaak nie en elke keer wat ek bel het die metro ander verskonings.

Vanoggend het hulle aan my gesê dat dit reggemaak is en die saak is afgehandel.

Dit is egter nie die geval nie.

Ek het weer ‘n nuwe verwysingsnommer gekry, maar dit lyk my asof die metro nie regtig omgee nie. Gaan hulle die lig kom regmaak sodra iemand verongeluk?

Wat moet ‘n mens doen om hulle uit te kry om hul werk te doen?

Die prys van alles styg, maar die werksgehalte gaan af! Welkom in Suid-Afrika mense, welkom! Jy betaal vir ‘n diens wat nie bestaan nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button