LettersOpinion

‘Padvark’ doen hom voor as polisielid

’n Boksburg inwoner, wat graag anoniem wil bly, skryf die volgende oor padwoede:

Een middag, oppad om my seun by die skool te gaan optel, het ek in my motor se truspieël gesien hoe ’n voertuig op my afgejaag kom.

Die voertuigbestuurder het só naby aan my gery dat ek nie eers die nommerplaat van sy voertuig kon sien nie.

Die voorval het in Elizabethweg plaasgevind, by die brug oor die hoofweg.

Nét toe ek aan my remme raak om die korrekte afstand tussen ons voertuie te behou, het die bestuurder heel arrogant naby aan my voertuig bly ry en met vingertaal vir my gevloek.

Met die hoop dat hy my sou uitlos, het ek ook vir hom gewys dat hy moet ”pasop”.

Die arrogante mansmens wys toe sommer met sy hande vir my hoe hy my nou kamstig skiet!

Toe albei ons voertuie by die kruising van Elizabeth- en Noordrandweg tot stilstand kom, het die man aan my gesê dat ek soos ‘n vrou wat sopas my lisensie bekom het ry.

Ek antwoord toe dat ek babas in die kar het en dat hy soos ’n padvark ry.

Die bestuurder het my aanhou vloek.

Nadat ek aan hom gesê het dat ek hom gaan rapporteer, het hy gesê dat hy vir die polisie werk en my verder uitgeskel.

Nou vra ek met trane in my oë: ”Mnr Polisieman”, in jou private motor, weet jy dan nie dis níe reg om so te jaag nie? Boonop dít, óók nog die slegte taalgebruik teenoor ’n vrou.”

* Volgens die Boksburg Noord SAPD kommunikasiebeampte, Luit Juanita Coetzer, is die voertuig van die ”padvark” nie dié van die SAPD nie en die man word ook nie erken as ’n polisielid nie. – @IschkeBoksburg

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button