Struwwelpeter: hondepisbossie is toe heerlik

En moet ook nie van die pot snert vergeet nie

STRUWWELPETER het ‘n interessante niggie. Onder haar vele talente is kookkuns nie die minste nie.

‘n Rukkie gelede nooi sy ons vir ete. Die hoofgereg, vertel sy, is Ragoût de Marog.
“Wat op aarde is dit?” vra ons.

“Dit is ‘n bredie met lamsvleis en marog, in die Franse styl,” beduie sy.

“Marog?”

“Ja, marog. In die Vrystaat noem ons dit hondepisbossie. Dus julle kry vandag hondepisbossiebredie.”

En dit was heerlik.

Laasweek laat weet sy dat die weer nou reg is vir ‘n pot snert.

Ons daag op. “Wat presies bedoel jy met ‘n pot snert?”

“Snert,” antwoord sy, “is die Nederlandse woord vir ertjiesop met gerookte varkskenkel.”

Dit was was uitstekend – en so ook was die waterblommetjiebredie en lemoentert wat gevolg het.

Nou, liewe leser, jy mog wel vra, wat is eintlik die punt van hierdie storie? Wel, die punt van die storie is dat nig Suzy alleen in ‘n kothuis woon in ‘n aftreeplekkie – en sy is al dertig jaar lank blind.

* * *

Die kinders ontdek ‘n stokoue tikmasjien in die huis en die pa moet verduidelik. Hy sit ‘n vel papier in en tik. Die kinders staan verstom. “Waar plug jy hom in?” wil hulle weet.

“Nee, jy plug hom nêrens in nie,” antwoord die pa.

“Nou waar is sy batterye?” vra die kinders.

“Nee, hy gebruik nie batterye nie.”

“Liewe genade pa, nou hoekom het hulle dit nie al laaaankal uitgevind nie?”
(Dankie Marina)

* * *

Parkeerwagte is iets wat ons nou al gewoond geraak het in ons land. Struwwelpeter was vanoggend gou dorp toe.

Hy het by ‘n heel paar plekke gestop – soos die poskantoor, biblioteek, supermark en petrolstasie, onder meer. Altesaam kos die ses plekke waar hy gestop het hom R30 in fooitjies.

Nou goed, hierdie mense moet ook lewe, en dis nogal goed as jou trollie by die supermark vir jou afgelaai word. Vir my is dit R5 werd.

Maar om die R5 te bekom is nie meer so maklik soos voorheen nie. Ons word nou ‘n kontantlose samelewing. Ons het almal kredietkaarte en nou het almal ook debietkaarte.

Debietkaarte is bedoel vir klein uitgawes soos brood en koerante en omdat dit vir beide die banke en die winkeliere moeite spaar, word mens aangemoedig om dit te gebruik.

Maar nou skakel jy die kleingeld uit waarmee jy fooitjies betaal.

En jy kan ook nie kleingeld by winkels vra nie, want hulle het gewoonlik nie.

Wonder wanneer ‘n entrepreneur pakkies kleingeld gaan begin opmaak en beskikbaar stel teen ‘n klein premie?

* * *

Dankie Johhny G vir wat volg:

‘n Kleinseun kuier by sy ouma nadat hy terugkeer van ‘n toer van die platteland waar hy grootgeword het. Ouma vra baie uit oor verskeie dorpe, die winkels, slaghuis en ander geboue van belang.

Hy vertel van al die uitbreidings en sê elke keer: “Ouma sal die plek nie herken nie!”

Skielik kry ouma ‘n nostalgiese trek op haar gesig en sê: “Sjoe, jy het darem groot geword. Ek onthou nog toe jy as baba by my gekuier het en ek jou doeke moes omruil.”

“Ouma, jy sal die plek nie herken nie!”

* * *

In die skool se teekamer spreek ‘n junior kollega sy senior, ‘n kort dame met dik dye en kort rokkies aan en vra haar om ag te gee op hoe sy sit.

Blitsig kom haar antwoord: “If you’ve seen it before, it is nothing new. If you have not, you won’t recognise it.”

* * *

Hier is nou ‘n belangrike aankondiging vir die van ons wat nou al die ouderdom bereik het dat ons ‘n paar keer in die nag moet opstaan – veral as jy ‘n paar glasies wyn voor slapenstyd geniet het.

‘n Plaaslike wynmaker, wat al bekendheid verwerf het met sy Pinot reeks wyne – soos Pinot blanc, Pinot Noir en Pinot Grigio – het nou met ‘n nuwe druif-hibried begin eksperimenteer. Daar is gevind dat die wyn wat van hierdie besondere druifsoort gemaak is, sterk anti-diaretikumeienskappe bevat.

Dus, as jy jou laataand glasie wyn geniet, maar jy wil nie driekeer gedurende die nag opstaan om badkamer toe gaan nie, probeer gerus hierdie wyntjie – sy naam is Pinot More.

Exit mobile version