Struwwelpeter: wat maak staatskas met hierdie groot toevallings?

Nou ja, dit had niks met my te doen nie, dus waarom die skuheid vir my?

ELKE dan en wan word ‘n paar groot maatskappye vasgetrek omdat hulle onder mekaar geheul het met produkpryse. En dan beboet die staat hulle met honderde miljoene rand.

Maar toe let Struwwelpeter op dat die instansies wat so gestraf word se produkpryse nog dieselfde bly. Byvoorbeeld, drie soorte brood, en Sasol se kunsmis om maar twee bestrafde maatskappye se produkte te noem kos nog dieselfde.

Die staatskas is bevoordeel met biljoene rande, maar die verbruiker betaal nog dieselfde prys. Nog erger, dié van ons wat afgetree is en afhanklik is van die inkomste van ons beleggings en ons pensioene, word twee maal gestraf: die maatskappye wat so beboet word, betaal eenvoudig net die boetes uit hulle winste – en dit beteken laer dividente.

En dan kom ons by die sg koolstofbelasting. Struwwelpeter betwyfel of ons regering hoegenaamd enigiets gaan doen met hierdie belasting om die carbon footprint te verminder.

En wat maak die staatskas met hierdie groot toevallings? Wie sal weet? Maar waar dink julle kom die geld vir Jakop se paleis en sy tweede (en totaal onnodige) BBP Boeing vandaan?

* * *

Loop anderdag ‘n ou kennis van jare gelede in die Mall raak. Wil nog gesels, maar dié kêrel is haastig en kortaf – amper of hy oor iets skaamkwaad is.

Sit en wonder daaroor – en toe val dit my by waar ek hom laas gesien het. En daar kon ek my lag nie hou nie.

Sien, dit het so gebeur. Hierdie ou was bekend vir sy preutsheid en sy konserwatisme. ‘n Ver-regse Afrikaner wat nie volksvreemde uitspattighede kon verdra nie en gereeld so gesê het.

Daar is vertel dat hy destyds sy tienerdogter se bikini (wat sy met haar eie sakgeld gekoop het) gekonfiskeer en verbrand het. Kwansuis omdat dit nie ordentlik genoeg was nie.

Nou ja, dit had niks met my te doen nie, dus waarom die skuheid vir my?

Wel, dit val my toe by dat dit moontlik gaan oor die laaste keer toe ons twee mekaar gesien het. Dit was op die Rhein-Main-lughawe in Duitsland. Ek het sit en wag vir my vlug, maar dit was vertraag.

Toe loop ek maar so bietjie rond in die winkeltjies in die vertrekarea. Een van hulle was “Dr Muellers Sex Shop”.

Uit blote nuuskierigheid wandel ek by dié winkeltjie in. Daar is ‘n groot glaskas in die middel.

En wie dink julle sien ek aan die anderkant van die glaskas? My konserwatiewe, preutse dorpsgenoot.

Ek glip by die winkeltjie uit en uit pure stuitigheid gaan sit ek op ‘n bank reg voor die sekswinkeltjie. Meneer Preuts kom uit. Ek groet hom ewe vriendelik. Hy word bloedrooi en met ‘n gemompelde verskoning verdwyn hy tussen die ander passasiers.

En nou, dertig jaar later, is hy wragtig nog skaamkwaad!

***

Dis sesuur in die aand. Na ‘n lang, moeilke dag klim die kantoorwerkster in die bus. Sy is uitgeput. Sy sak neer in haar sitplek en maak haar oë toe om ‘n bietjie te ontspan.

By die volgende bushalte klim ‘n man in. Hy kom sit langs haar.

Hy haal sy selfoon uit en begin praat. Hard en steurend.

“Haai liefie, dis ek, Eric. Sorry dat ek ‘n bietjie laat is, maar ek was in ‘n vergadering in die baas se kantoor. Nee, liefie, ek was nie by daai blond in reception nie. Ek belowe jou. Kon nie vroeër bel nie.

“Nee liefie, regtigwaar.” En so hou dit aan.

Die kantoorwerkster van flussies besluit sy het nou genoeg gehad van die vent se gekerm.

Sy leun oor na hom, gryp sy selfoon uit sy hand en sê: “Eric, hou nou op nonsens praat op jou sel en kom terug bed toe!”

Exit mobile version