Struwwelpeter: toe was ouers nog ouers en kinders, kinders

Daardie generasie het van die beste risikonemers, probleemoplossers en uitvinders ooit

MENSE word oud en dan sterf hulle. Selfs staatsmanne.

Dis hoe dit is. Maar een ding oor Mandela se siekte is vreemd: dis nie sy dokters wat mediese bulletins oor sy toestand uitreik nie – dis die ANC.

Onthou julle, destyds toe Breznev, die Sowjet-president, gesterf het, was dit dieselfde. Die regering het dit geheim gehou. Hy was al amper twee weke dood voordat die Politburo die nuus bekend gemaak het.

Nou wonder Struwwelpeter – ons regering is ewe behep met geheimhouding. Speel hulle nou dieselfde speletjie met Mandela?

* * *

Wat is die verskil tussen gratis en verniet?
Kinders gaan gratis skool toe, maar dit is alles verniet.
(Dankie Marina)

* * *

Aan al die “kinders” wat die 1940’s tot 2013 oorleef het!

Ons is in ons bedjies gesit op ons magies in ‘n kot wat oorgetrek was met helderkleurige loodbasis verf. Ons het geen “kindvaste” deksels of proppe op medisynebottels, deure of kaste gehad nie en geen kopskerms gedra as ons fietsry nie. Om nie te praat van die risiko’s toe ons duim gery het nie.

As kleuters en kinders kon ons agter op die sitplek sit sonder veiligheidstoele, veiligheidsgordels of lugsakke. Om agter op die bakkie te ry was groot pret en ons het water uit die tuinslang gedrink en nie uit bottels nie.

Ons het ons koeldrankies met vier vriende gedeel uit een bottel en niemand is dood daarvan nie. Ons het sjokoladekoek en wit brood geëet met regte botter en “Cool Aid” met suiker gemaak om te drink, maar ons was nie oorgewig nie, want ons het altyd buite gespeel.

Ons het ure spandeer deur kaskarre te bou uit afvalhout en yster en het dan teen die steilste bulte afgejaag, net om uit te vind ons het vergeet van die brieke. Nadat ons’n paar keer die kaskar omgegooi het en tussen die bosse ingejaag het, het ons geleer om die probleem op te los.

Die dogtertjies het die rokkies in hul broekies gesteek om ook in al die pret te kon deel en niemand het iets daarvan gedink nie.

Ook was daar nie tyd vir dwelms nie, want ons ouers het nog genoeg vir ons omgegee om ons boude aan die brand te klits as ons iets stout sou probeer doen.

Sondae het ons almal ons beste kleertjies aangetrek en kerk toe gegaan. Geen verskonings om tuis te bly was aanvaarbaar nie.

Boekevat saans na ete was ‘n werklikheid en ons almal het aandagtig geluister, want vrae is gevra oor die stukkie wat gelees was.

Ons het nie “laystations, Nintendos, X boxes, Wi of enige videospeletjies gehad nie. “Shopping” vir ontspanning was nie aan ons bekend nie, en “label”-klere was toe ook nog nie eers in “China” gemaak nie.

Ook nie 150 TV kanale, DVDs of videoflieks, selfone, persoonlike rekenaars met internet, facebook of chatrooms nie.

Ons het vriende gehad en as ons hulle gesoek het, het ons net buite toe gegaan.

Ons het uit bome geval, was gesny en het bene gebreek en daar was geen geregtelike eise vir hierdie ongelukke nie. Ons het wurms en modderpasteie geëet en die wurms het nie vir altyd in ons geleef nie. Ons het windbukse en poppe gekry vir ons tiende verjaarsdag, speletjies opgemaak met stokke en tennisballe, ou komberse en peule en al het niemand ons gewaarsku dat dit kan gebeur nie, het ons min oë uitgesteek.

Ouers was nog ouers en kinders was nog kinders, en kinders het gedoen wat vir hulle gesê was.

Daardie generasie het van die beste risikonemers, probleemoplossers en uitvinders ooit.

Die laaste 50 jaar het bestaan uit ontploffings van uitvindings en nuwe idees. Ons het vryheid, verlies, sukses en verantwoordelikheid gehad en ons het geleer hoe om dit te hanteer. As jy een van hulle was, veels geluk!
(Dankie Lizé)

* * *

Graad 5 Afrikaans-eksamen:
1. Noem ‘n gebruik van beesvelle. A: Om die bees binne te hou.
2. Wat is ‘n outobiografie? A: Dis die ontstaan en geskiedenis van die motorcar.
3. Wat is die verlede tyd van eet? A: Honger.
4. Wat is die verkleinwoord van oupa? A: Kleinseun.
5. Wat is die teenoorgestelde van kleinneef? A: Kleinteef.
6. Voltooi die volgende idioom: Hoe meer haas… A: Hoe groter haaspastei.
7. Wat is die meervoud van kabeljou? A: Kabeljulle.
8 Formule vir ‘n sirkel se omtrek: A: Paai straal kordaat.
9 . Wat is ‘n terminale siekte? A: As jy op die lughawe kots.

Exit mobile version