BlogsOpinion

Struwwelpeter: Facebook se ‘wetenskap’ is soos Frankenstein

Luister na die wetenskap wat met miljarde dollars se navorsing veilige voedsel bekostigbaar vir mense daarstel

IETS om oor te dink Gerhard Verdoorn se onlangse brief in Agri Echo. Verdoorn is ‘n chemie-professor en ook hoof van die SA Gifinligtingsentrum.

“Die stoere Afrikaners het outyd se dae ons jongeres altyd gewaarsku teen die “Rooi Gevaar”. Dit was die euwels van kommunisme. Neil Diamond-musiek, denimbroeke en Desmond Tutu. Ek het self met die kommies in die Angola-oorlog swaarde gekruis. Hot August Night geluister, my arme ma verpes met denimbroeke wat moeilik was om te stryk, en soms dinge van die biskop in die liberale media raakgelees.

“Tog was daar rigting onder mense se denke. Wetenskap was hoog aangeslaan as die evangelie van tegnologie, die heelal en ontwikkeling terwyl fiksie soos Batman en Frankenstein vir almal lekker vermaak verskaf het. Die volk het na die minister, die dominees, die polisiemanne en die wetenskaplikes geluister en die lewe was georden.

“Nou staan ons hier in die 21e eeu waar elke mens ‘n wetenskaplike is, want hy of sy doen nou ‘navorsing’ op die Internet en Facebook.

“Wat ookal daar opgedis word, word summier as die waarheid en ‘wetenskap’ aanvaar en word binne nanosekondes die wêreld as ‘feite’ ingestuur. Die grap van die saak is dat die aktiviste soos paddas op lelieblare rondspring en ‘kwessies’ aanvat en daarvan missies maak.

“Die tipe mense is of teen kernkrag, oorlog, steenkoolkragsentrales, plaagdoders, geneties gemodifeerde gewasse of die samelewing gekant. Hy en sy verkondig “vrye liefde” as die evangelie, terwyl hulle in ‘n kannabisnewel rondval op soek na die volgende missie.

“So vat die pseudo-wetenskaplikes die publiek op ‘n rit na nêrens. Dis GM-gewasse wat mens vergiftig, die aarde besoedel en boere verplig om plaagdoders te spuit. As die pseudo-aardwetenskaplikes se Facebook-wetenskap so akkuraat was, waarom is daar geen teken van enige GM-effekte op enige mense nie? Verder meer moet die Frankenstein-dissipels wys waar die GM-gewasse die aarde besoedel het en waar ander plantsoorte met GM-mielies verbaster het.

“Hoeveel mense is al met glifosaat (roundup) vergiftig? As toksikoloog soek ek nog na daardie gevalle. Wat egter wel waar is, is dat die GM-gewas voedselproduksie op dieselfde oppervlaktes met tot 20% verhoog, die gebruik van insekdoders drasties verminder het en genoeg geproduseer het om die wêreld se groeiende mensemassa kos te gee.

“‘n Bepaalde groep mense teiken maatskappe soos Monsanto gereeld oor GM- gewasse en plaagdoders. Hulle baseer hul aanvalle op Frankenstein se Facebookbybel. Gooi mens egter die wetenskaplike feite voor hierdie mense neer, dan draai hulle bloot die rug daarop.

“Een vrou het my op ‘n werkswinkel toegesnou dat ‘die boere ons vergiftig’. Die antwoord daarop is eenvoudig: dis nie jou kos nie, dis die boere se kos en as jy dit nie wil koop nie, plant gerus jou eie kos. Jy sal beslis na een seisoen smag na die bietjie plaagdoder om die insekte onder beheer te hou en jou onkoloog moet gaan spreek oor die kanker, wat swamme se kankerwekkende stowwe in jou veroorsaak het.

“Dis tyd vir mense om wakker te word! Luister na die wetenskap wat met miljarde dollars se navorsing veilige voedsel bekostigbaar vir mense daarstel. Facebook se ‘wetenskap’ is net so onwerklik as wat Frankenstein se bestaan is. Lees ‘n slag jou Bybel en skakel jou selfoon se Faceboek af!”

Dr Gerhard Verdoorn, www.croplife.co.za

***

Daar is sekere bangmaakwoorde wat emosies van vrees in oningeligte mense laat opstoot. Woorde soos kanker, radioaktiwiteit, toksies, chemikalië en dies meer.

‘n Amerikaanse sielkundestudent het ‘n artikel geskryf waarin hy al hierdie emosiebelaaide woorde gebruik het en hy het dit uitgedeel aan 100 mense in sy tuisdorp.

Die artikel was as volg:

In ons dorp is daar ‘n saak wat die chemiese stof dihidromonoksied gebruik.

Dihidromonoksied het die volgende eienskappe:
· Dit word in alle kankers gevind
· Dit is hoogs korrosief teenoor meeste metale
· Dit word gevind in die longe van mense wat sterf aan longontsteking
· As dit verhit word, vorm dit ‘n gas wat dodelik kan wees.
· Meeste toksiene los daarin op .

Wat gaan ons hieromtrent doen? Wil u protesteer teen die gebruik van dihidromonoksied in ons dorp?

Meer as 90% van die mense wat hierde artikel gelees het, was erg ontsteld en wou protesteer. ‘n Paar het gevra wat dihidromonoksied is en een ou het gesê hulle trek sy been. Dihidromonoksied is die chemiese naam vir water.

Dink bietjie daaroor.

Related Articles

Back to top button