Voortrekkers maak ‘n verskil in Boksburg-Noord

Die kommando gee die jeug die geleentheid vir spangees, kultuur deur avontuur in die natuur, karakterbou en pret.

Die JC Calitz Voortrekker Kommando van Elspark het onlangs gehelp om ‘n verskil te maak in Boksburg-Noord.

Hulle het Monica’s Feeding Scheme gehelp om oorkant die Boksburg-Noord polisiestasie worsbroodjies, koeldrank en lekkergoedpakkies aan 100 kinders uit te deel.

JC Kalitz het ook skenkings in die vorm van klere, speelgoed en beddegoed geskenk.

Verder het lede van die kommando met die kinders gesels.

Kommandoleier Tanja Lange het die dag as ‘n sukses beskryf.

“Die lede van die kommando en selfs hul ouers het dit geniet om ‘n bydrae te lewer.”

Lange het bygevoeg dat hul beplan om weer te help by die voedingskema. Sy het gesê dat hul skenkings in die vorm van nie-bederfbare voedsel, brood, botter, konfyt, higiëniese produkte en speelgoed vir die kinders vir Kersfees nodig het.

Die Voortrekkers is ’n kultuurbeweging wat in besonder die jeug toerus om as moderne Afrikaners, positiewe burgers en konsekwente Christene hulle roeping deur diensbaarheid uit te leef.

Lede van die JC Calitz Voortrekker Kommando het Monica’s Feeding Scheme gehelp om kos uit te deel.

Die kommando kom elke Vrydag van 16:00 tot 17:00 te Laerskool Elspark byeen.

Vir meer inligting oor die kommando, kontak Lange by 083 412 0489.

Stigter van die voedingskema, Monica Lewis (71), het die kommando bedank vir hulle hulp en ondersteuning.

Lewis het verduidelik sy het 30 jaar gelede die skema begin.

Die skema deel broodjies en koeldrank uit aan 50 tot 100 kinders op Maandae en Donderdae.

Hulle deel ook ‘n maaltyd uit aan die kinders op Saterdae.

Lewis het benadruk dat hulle ondersteuning van die publiek benodig.

Skenkings in die vorm van brood, grondboontjiebotter, margarine en tweedehandse klere sal waardeer word.

Indien jy die voedingskema wil ondersteun, kontak Lewis by 084 430 2859.

Lees Ook: Baie pret vir Baanbreker Voortrekkers

Lees Ook: Voortrekkers dra die fakkels hoog vir Hemelvaart

   

Exit mobile version