Bloed vloei tydens bloedskenkprojekte by EG Jansen en Concordia

Daar is oor die 20 eenhede bloed ingesamel by elk van die skole.

Leerders van Hoërskool Dr EG Jansen het op 30 Julie hul moue opgerol om bloed te skenk tydens die skool se bloedskenkdag.

Een van die skool se Graad 10 leerders, MJ Kruger, het op die dag vir die eerste keer bloed geskenk.

“Dit is belangrik om bloed te skenk sodat jy weet jy het iemand gehelp in Suid-Afrika,” het Kruger verduidelik.

Wesley van der Merwe, ook in Graad 10, het gesê sy ouers inspireer hom om bloed te skenk.

“My ouers skenk gereeld bloed en vandag gaan ek saam met my vriende bloed skenk om lewens te red. Vir my is dit belangrik om bloed te skenk sodat ek mense kan help wat my nodig het.”

Nog ‘n leerder, Catelyn Knoesen (18), het besluit om haar deel te doen vir die bloedbank.

“Dit is seker nou al die vyfde of sesde keer wat ek bloed skenk. Vir my is dit nie so erg om bloed te skenk nie. Inspuitings is baie erger en bloedskenk gaan daaroor om ander mense te help,” het sy gesê

Daar was ook ‘n bloedskenkdag by die skool se buurskool, Laerskool Concordia, aangesien die skole hande vat om die bloedbank te help met voorraad.

Freek Erasmus (waarnemende hoof van Hoërskool Dr EG Jansen) is saam met Nomfundo Khumalo van die bloedbank.

Peter Mafela van die plaaslike bloedbank het bevestig daar is 20 eenhede op die dag ingesamel by EG Jansen terwyl hul doelwit 49 eenhede was.

By Concordia is daar 21 eenhede bloed ingesamel terwyl die doelwit 36 was.
Ronel Steenkamp, organiseerder van die projek, het almal bedank wat gekom het om bloed te skenk.

“Ons waardeer die skole en almal wat ‘n bydra gelewer het. Ek dink die skole doen ‘n goeie werk om keer op keer bloedskenkdae te hou.

“‘n Mens hoef nie altyd geld te gee om ‘n verskil te maak nie. Jy kan soms jou tyd of iets van jouself, soos jou bloed, gee,” het Steenkamp bygevoeg.

Lees Ook: Bloedskenkers red Melanie se lewe

Lees Ook: Keep rolling up your sleeve urges SANBS

   

Exit mobile version