Local news

Gemeenskap rou na geliefde inwoner sterf

Chris word onthou as iemand wat altyd bereid was om ander te help.

Die gemeenskap van Witfield is bedroef na die afsterwe van ‘n geliefde inwoner, Chris Visser (33), op 21 September.

Tish du Plessis, woordvoerder van Boksburg 911, ‘n gemeenskapsforum wat met noodgevalle bystaan, het gesê dat Chris oorlede is toe ‘n motor hom getref het op ‘n ongelukstoneel op die N17 waar hy besig was om hulp te verleen.

Du Plessis het gesê hulle het om ongeveer 23:00 ‘n oproep oor die ongeluk ontvang. Chris, ‘n lid van Boksburg 911, en ‘n kollega het na die toneel gegaan. Die persoon wat saam met Chris was is nie deur die ander motor getref nie.

Volgens sy ma, Monica, sal almal hom onthou vir sy glimlag en behulpsame geaardheid.

“Sy plek sal nooit weer gevul kan word nie. Hy laat ‘n groot leemte in almal se lewe. Hy het sterk familie waardes gehad en het sy lewe met integriteit geleef.
“Hy was ‘n baie nederige jong man. Sy grootste begeerte in die lewe was om mense te help. Hy het baie respek en tyd vir bejaardes gehad.”

Monica het bygevoeg dat Chris sy Graad A in sekuriteit- sowel as vuurwapen bevoegtheid te midde van Covid verwerf het.

“Hy was lid van omtrent al die noodgroepe soos Paramedic en SAPS WhatsApp groepe. Hy het nooit gehuiwer as ‘n noodkreet deurgekom het nie.
“Hy moes self by vele geleenthede die doodstyding aan families oordra. Niks was ooit te veel moeite vir hom nie. Hy was hy sedert geboorte ‘n regte klein vegter,” het sy gesê.
Monica het die volgende boodskap ontvang: “Jy het regtig ‘n goeie seun grootgemaak. As jy iets nodig gehad het was hy bereid om alles te los waarmee hy besig was om te kom help. Dit was net sy persoonlikheid. Hy was baie gaaf en goedhartig. Baie mense het hom geken omdat hy so plat op die aarde was. Almal gaan hom mis.”

Du Plessis het namens Boksburg 911 medelye aan Chris se familie betoon.
“Onthou hom vir die diep man wat hy was en vier sy lewe elke dag.”

Daar sal op 2 Oktober om 11:00 ‘n troosdiens vir Chris gehou word te NG Kerk Witfield.

Lees Ook: Bring hope this Childhood Cancer Awareness Month

Lees Ook: Indulge in air-fried lemon meringue cupcakes

   

Related Articles

Back to top button