Shaniqua blink in Maak My ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Hoërskool Dr EG Jansen is trots op Shaniqua en gee haar hulle volle ondersteuning in hierdie opwindende kompetisie.

Shaniqua Steenkamp het haar plek verower in die Top20 van die Maak My ‘n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en die opwindende ViaTV-reeks.

Tydens die Brandbank uitdunrondte gedurende die vakansie is die Top50 entrepreneurs getoets. Dié uitdunrondte het hulle ondernemingsvaardighede tot die uiterste beproef.

Die jong Top 50 entrepreneurs moes vrae van beoordelaars soos Albert van Wyk, Marcius van Antwerp, Matthew Blauw, iHope, Roedolf van der Westhuizen, Hendri Slabbert, Shaun Burr-Dixon en Jaco Grobbelaar beantwoord. Hierdie beoordelaars het elkeen indrukwekkende ervaring in die besigheidswêreld en was moeilik om te beïndruk.

Shaniqua het egter uitgeblink op die Brandbank en is as deel van die Top20 verkies. Hierdie Top20 entrepreneurs takel toe ‘n opwindende week van uitdagings tydens die skoolvakansie.

Die uitdagingsrondtes is by verskeie besighede op verskillende plekke aangebied, waar die Top20 uitgedaag is met regte-wêreld sake omstandighede. Hier is hulle ondernemingsvaardighede op die proef gestel met vier intense uitdagings by Bovest Wealth Management, Akademia, Terugploeg van Atterbury Trust en ATKV Buffelspoort, wat die toneel geskep vir hierdie opkomende entrepreneurs om hul talente te bewys.

Shaniqua is uitgesonder en is as deel van die Top20 in hierdie jaar se Maak My ‘n Miljoenêr kompetisie en ViaTV reeks gekies. Sy is uitgesoek uit ‘n groep van 42 000 hoërskool leerders en 144 ander hoërskool entrepreneurs.

Die Boksburg Advertiser het by Shaniqua gaan aanklop om uit te vind oor haar ervaring.
Jy was onlangs deel van Maak my ‘n Miljoenêr. Was dit jou eerste keer voor die skerms?
Ek was al deel van ‘n musiekvideo, maar hierdie opnames was ‘n perd van ’n ander kleur. Nie net het ek baie geleer nie, maar dit was ook ‘n onvergeetlike ervaring, gevul met hope pret.

Hoe het jy by die program betrokke geraak?
Albert van Wyk het op ‘n reënerige dag by ons skool kom praat. Hy het ons gemotiveer om in te skryf vir die kompetisie. Hy het ons ook soveel waardevolle inligting gegee oor entrepreneurskap en net daar het ek besluit om in te skryf deur my video in te stuur.

Hoe het jy gevoel toe jy gehoor het dat jy nou deel van die program is?
Ek was omtrent opgewonde en kon dit amper nie glo toe ek die brief oopaak en sien dat ek deur is na die volgende rondte toe nie! Dit was ook die oomblik wat ek besef het dat ek skouer aan die wiel sal moet sit met my besigheid.

Is daar dalk enige agter die skerms geheime van die program wat jy wil uitlap?
Uit die aard van die saak kan ek nie die aap uit die mou laat nie. Die volgende paar episodes sal julle omtrent op julle tone hou. Kyk veral uit vir die ‘bloopers’.

Jy het met baie mense gewerk tydens die verfilming van die program. Wie was die lekkerste om te ontmoet?
Albert en Marilie is verseker bo aan die lys. Hulle het elke oomblik besonders gemaak. Dit was egter ook baie lekker om nog jong entrepreneurs te ontmoet wat reeds suksesvolle besighede het. Ons Top-20 het vinnig ons voete gevind en deel gevorm van die Maak My ‘n Miljoenêr familie.

Jy het baie hooi op jou vurk as dit kom by sport en kultuur. Hoe kry jy dit reg om by alles uit te kom?
Ek moet sê dit is redelik moeilik om al die balle in die lug te hou maar een ding wat Albert ons van die begin af geleer het is tydsbesteding. Julle kan self in sy boek Millionaireat22 gaan lees oor hoe om jou lewe en jou besigheidslewe te bestuur.

Is daar iemand na wie jy opkyk?
Definitief my ma. Sy is ‘n rolmodel al van dag een af. As daar nou iemand is wat weet hoe om hard te werk is dit my ma. Sy ondersteun my met alles wat ek doen en is ook altyd daar vir iemand wat ‘n helpende hand nodig het. Niks is ooit te veel moeite vir haar nie en ek weet vir ‘n feit dat ek nog baie dinge by haar kan leer.

Wat wil jy nog graag in die toekoms bereik?
Ek wil graag in Albert se voetspore volg deur ook jong mense te inspireer en te motiveer om entrepreneurskap te kies. Dan wil ek ook vele besighede opbou en dan op die einde van die dag ‘n miljoenêr word sodat ek ander mense kan help.

Vir enige verdere inligting oor hierdie kompetisie, besoek www.millionaireat22.com.
Kyk na die vorige jaar se gewilde reeks op https://www.youtube.com/@millionaireat22. Jy kan hierdie jaar se reeks ook sien op ViaTV-kanaal 147 elke Woensdagaand om 19:30 vanaf 9 Augustus 2023.

Lees Ook: EG Jansen maak weer harte oop teenoor die gemeenskap 

Lees Ook: ATKV help behoeftige leerders met hul sop-in-‘n-bottel projek

   

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version