Local news

Plaaslike duo wil hoop bring met nuwe ballade

Dié duo se nuwe lied delf in die lewe van drie vriende en die moeilike tye wat hulle moes oorkom.

Hartklop, wat bestaan uit Cornel Viljoen en Zanneli Casey van Boksburg, is besig om opslae in die musiekbedryf te maak.

Die groep het in Julie 2022 ontstaan nadat Zanneli vir Cornel genader het om haar met haar musiek te help.

Hartklop het bekendheid verwerf vir hulle unieke klank en treffende lirieke.

Vanaf hulle eerste ontmoeting was dit duidelik dat hulle dieselfde toewyding, passie en drome deel.

Die duo se naam is deur een van hulle oorspronklike liedjies geïnspireer en vang die kern van hulle lewens en liefde vir musiek vas. Dit dien ook as ‘n simbool van hoop.

Hulle is trots op Wentelbaan en beskou die geleenthede om die verhoog met kunstenaars soos Bernice West, Spoegwolf, Juan Boucher en Snotkop te deel as groot hoogtepunte in hulle loopbaan.

Alhoewel albei voltyds werk, is hulle besig om sewe liedjies te voltooi en hulle volgende enkelsnit, Briewe, word ook binnekort vrygestel.

Hartklop se splinternuwe enkelsnit en musiekvideo wat pas uitgereik is, is reeds besig om soos ‘n veldbrand te versprei. Probeer is ‘n rock ballade met ‘n kragtige boodskap.

Dié lied delf in die lewe van drie vriende en die moeilike tye wat hulle moes oorkom.

“Ons wil graag hê dat luisteraars hulle eie stories moet koppel aan die liedjie, ongeag van waar hulle hulself in die lewe bevind,” het Hartklop gesê.

Volgens die twee musikante is hierdie snit gebore terwyl hulle aan ‘n ander liedjie gewerk het. Zanneli was geïnspireer om die lirieke te skep nadat Cornel die wysie op sy kitaar gespeel het.

Zulekha, haar beste vriendin en die groep se bestuurder, het ook waardevolle insette gelewer.

Hulle deel: “Ons is al drie geskei, en op daardie oomblik het dit gevoel asof die liedjie oor ons elkeen se storie gaan en die pad wat ons moes stap. Dit het 42 minute geneem om Probeer te skryf en ons was baie emosioneel oor die eindproduk, omdat ons besef het dat die liedjie en die proses baie spesiaal is. Ons glo dat mense sal aanklank vind by die boodskap en kan nie wag dat die publiek dit moet hoor nie.”

Die musiekvideo is in die Oos-Rand deur Charles Ackerman verfilm.

“Wat die video uniek maak, is dat dit ‘n wintergevoel het en vir kykers wys daar is lig aan die einde van die tonnel.”
Probeer is hulle vierde enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van Wentelbaan, wat saam met Abigail Heyns opgeneem is. Liefling en Jammer is ook baie goed ontvang.

Intussen werk hulle hard daaraan om hulself op sosiale media platforms te bemark.

Die mense agter die musiek
Cornel Viljoen is ’n saggeaarde 33-jarige musikant en liedjieskrywer van Parkrand. Hy werk reeds 16 jaar in die musiekbedryf en was 14 toe hy ’n konsert bygewoon het wat sy passie vir musiek laat vlam vat het.

Oor die jare was hy deel van verskeie groepe, waarvan Splinter Town seker die bekendste is, en het hy ook sy eie solo-enkelsnit, Ek Weet, uitgereik wat steeds op RSG gespeel word.

Hy het na skool vir ‘n jaar lank kitaar- en musieklesse geneem en homself ook in klavier en baskitaar bekwaam.

Hy het ’n wye musieksmaak, maar Afrikaanse musiek lê hom die naaste aan die hart.

As hy nie gesing het nie, sou hy graag ’n akteur wou wees omdat hy dit geniet om mense te vermaak en nie homself kan indink om enigiets anders te doen nie.

Zanneli Casey is ’n musikant in murg en been en is al vir die afgelope 23 jaar aktief in die musiekbedryf doenig.

Dié 36-jarige sanger en liedjieskrywer het in Meyerton grootgeword, waar haar ma haar van kleins af geleer instrumente speel het, en woon tans in Boksburg saam met haar driejarige dogtertjie.

Haar musieksmaak strek oor verskeie genres, maar sy het ’n besonderse voorliefde vir punk-rock en pop, met Avril Lavigne wat oor die jare die grootste invloed op haar eie musiekstyl en kleredrag gehad het.

Omdat sy van musiek hou wat stories vertel, is country ook op haar lys van gunstelinge en sy het ook groot bewondering vir Ariana Grande se vermoë om met haar stem te eksperimenteer.

As sy nie ’n musikant was nie, sou sy graag met diere (een van haar anders liefdes) wou werk en ’n veilige hawe wou skep vir wilde diere in nood.
Die musiekbedryf het haar geleer om net haarself te wees en nederig te bly.

“Ons wil vir mense ’n boodskap bring, vol hoop en hart (en partykeer ook humor). Die lewe is soms moeilik genoeg en almal het uitdagings. Ons het ook ’n unieke klank wat hierdie boodskap op ’n besonderse manier oordra en waarmee mense kan vereenselwig,” sluit hulle af.

Lees Ook: Domique reik na sterre met nuwe enkelsnit

Lees Ook: Rudi Claase opnuut dankbaar met nuwe enkelsnit

   

Related Articles

Back to top button