Boksburg VLU spog met nuwe voorsitter

Die VLU bestaan al vir oor die 90 jaar en is ’n nie-winsgewende organisasie wat die volwasse vroue verryk en bemagtig.

“Dit is nie net ‘n koek en koffie tyd nie. Ja ons kuier heerlik saam en lewenslange vriendskapsbande word gesmeë, maar ons is soveel meer.”

Dit is die woorde van Marinda Janse van Rensburg wat onlangs verkies is as Vroue Landbou-Unie (VLU) Boksburg-tak se nuwe voorsitter.

Sy neem die leisels oor by Alta Prinsloo wat diep spore in die tak en Goudrif-streek getrap het.

Marinda het betrokke geraak by die VLU nadat ‘n vriendin haar ‘n paar jaar gelede genooi het na ‘n VLU byeenkoms.

“Op die dag was ek nie baie beïndruk nie, maar het tog besluit om by hulle aan te sluit, want iets het my gefassineer van die organisasie.

Vandag is ek so bly ek het gebly om eers meer te wete te kom en het nie impulsief ‘n oningeligte besluit geneem nie,” het sy verduidelik.

Hoe langer Marinda gebly het, hoe meer het sy verstaan waaroor die organisasie gaan.

“Dit was vir my ‘n heerlike ervaring om deel te kon wees van die instansie. Behalwe vir al die positiewe insette wat elke dame in my lewe gemaak het, het ek gevoel ek behoort.

“Ons is onder andere kreatiewe en kuns vaardighede geleer, asook om te hekel en te brei. Ek het my eerste kombers gehekel en dit was vir my ‘n wonderlike mylpaal om te behaal.”

Dit was vir Marinda ‘n voorreg om as voorsitter van die Boksburg-tak gekies te word, maar ook ‘n uitdaging.

“My doelwit is om die VLU meer prominent te maak en dames weer bewus te maak van die VLU en die ongelooflike voordele wat die organisasie inhou.

“Ons wil vroue se lewens verryk, deur hulle verskillende lewensvaardighede te leer en hulle oor ‘n wye spektrum te bemagtig. Van jong dames tot ouer dames kan baat vind by die organisasie. Ons wil ook meer betrokke raak by gemeenskapsprojekte,” het sy bygevoeg.

“As jy voel jy wil jouself bemagtig met allerlei vaardighede van om ‘n knoop aan te werk tot om ‘n kombers te hekel dan is die VLU net vir jou.

“Die doen dus ‘n hartlike uitnodiging aan dames van alle ouderdomme om by hul te kom kuier.”

Hulle kom elke eerste Woensdag van elke maand byeen. Vir meer inligting, skakel Marinda by 072 120 7086.

Lees Ook: VLU-lede geniet Januarie vergadering

Lees Ook: Stylvolle eerste vergadering van die jaar vir Boksburg VLU

 

Exit mobile version