Local news

Boksburg Stoeiklub spog met nuwe voorsitter

Die nuwe voorsitter het baie planne om die klub na hoër hoogtes te neem.

Jaco van der Mescht se visie vir die Boksburg Stoeiklub is om ‘n uitreikpunt in die gemeenskap te wees wat help om kinders uit die strate te hou.

Van der Mescht, ‘n adjudant-offisier verbonde aan die Boksburg-Noord Polisiestasie, is onlangs verkies tot die voorsitter van die klub. Die 41-jarige voorsitter van Jansen Park het ongeveer ses jaar gelede by die klub betrokke geraak toe sy seun, Franco (10), begin stoei het.

“Toe ek sien hoe my seun stoei geniet, het ek myself opgewerk na afrigter en beampte,” het hy verduidelik.
Van der Mescht is opgewonde om die leisels as voorsitter oor te neem.

“Omdat ek so nou in die area werk weet ek wat die behoefte is. Daar is baie kinders wat in die straat speel en niks het om te doen nie. Op die einde van die dag raak hulle betrokke by dwelms. Daarom wil ons hê die klub moet ‘n veilige hawe wees waar kinders kan kom oefen.

“Een van ons suksesstories is ‘n seun wat ons karre opgepas het. Ons het hom genooi om te kom stoei en hy het toe ‘n SA-kampioen geword wat hom gehelp het om ‘n beurs by ‘n universiteit te kry. Op die oomblik help ander ouers by die klub om hom te borg. Daar is baie sulke kinders in die gemeenskap wat potensiaal het, maar dit nie uitleef nie.

“As ons nog sulke suksesse kan kry is ons doelwit bereik,” het hy verduidelik.

Die voorsitter is passievol oor stoei omdat die sport nie diskrimineer nie.

“Dit maak nie saak wat die kleur van jou vel is of hoeveel geld jou pa het nie. Dit gaan oor wie die beste is. Dit is net jy op die mat, daar is nie ‘n span wat jou dra nie.

“Dit gaan oor die kinders. Ek wil graag hê hulle moet spesiaal voel soos wat die voormalige Suid-Afrikaanse afrigter Nico Coetzee my en my seun laat voel het toe ons die eerste dag by die klub ingestap het,” het hy bygevoeg.

Van der Mescht het beklemtoon dat enigiemand betrokke kan raak by die sport.

“Ons wil mense uitnooi om te kom kyk waaroor dit gaan. Daar is geen ouderdomsbeperking nie. Ons het selfs iemand in sy 70s wat nog stoei.”

Verder wil Van der Mescht graag borge betrokke kry by klub sodat hul meer minderbevoorregte kinders kan help stoei.

Vir meer inligting, kontak die voorsitter by 082 786 7941.

Lees Ook: Plaaslike stoeiers beïndruk

Lees Ook: Local wrestlers rake in the medals at prestigious competition

   

Related Articles

Back to top button