‘n Dag van pret vir lede van die Susan Badenhorst Voortrekker Kommando

Dié kommando, gestig op 22 Januarie 1980, is ‘n dinamiese jeugbeweging wat steeds groei.

Lede van die Susan Badenhorst Voortrekkerkommando het op 5 September saam met Jaco, Marcus en Donné Coetzee van Rooies Swepe gekuier.

Die kinders was opgewonde en gretig om te leer hoe om ‘n sweep op die regte manier te slaan.

“Party van ons is met ‘n merkie of twee huistoe na ‘n paar onsuksesvolle houe. Tog het ons agtergekom dat dit niks te doen het met hoe kort of lank jy is nie.

Van ons kleinste jeuglede het die sweepslaan baie vinnig onder die knie gekry en die slae soos geweerskote laat klink,” het kommandoleier Gerhard Marais gesê.

“Ons is ‘n beweging wat die norme van goeie Afrikanerskap, goeie burgerskap en Christenskap uitleef. Ons gee geleentheid vir spangees, kultuur deur avontuur in die natuur, karakterbou en pret.”

Die kommando kom elke Maandagmiddag tussen 17:15 en 18:15 bymekaar by NG Kerk Witfield, Lowther Straat 65.

Alle kinders van Graad R tot Graad Sewe en hoërskoolleerders word uitgenooi om betrokke te raak. Die beweging bied ook uitstekende geleenthede vir werkende volwassenes en ouers om betrokke te raak.
Vir meer inligting, stuur ‘n WhatsApp boodskap aan die kommando by 083 293 1107.

Lees Ook: FTC Modderfontein beïndruk Susan Badenhorst Voortrekkers

Lees Ook: Susan Badenhorst Voortrekkers kamp lekker

   

Exit mobile version