Volkspele goed vir gees en vlees

BA AND BCT Tayla Smit Stiaan van der Walt, laerleier van Inspan Volkspelelaer, is al meer as vier dekades by Volkspele betrokke en is nog lank nie gereed om die tuig neer te lê nie. Na byna 30 jaar by Saamstaan Volkspele Laer in Kempton Park het Stiaan en sy vrou, Marita, in 2008 by

Stiaan van der Walt, laerleier van Inspan Volkspelelaer, is al meer as vier dekades by Volkspele betrokke en is nog lank nie gereed om die tuig neer te lê nie.

Na byna 30 jaar by Saamstaan Volkspele Laer in Kempton Park het Stiaan en sy vrou, Marita, in 2008 by Inspan aangesluit, toe Ria Kasselman laerleidster was. Hy is sedert 2018 onderleier en neem die posisie as leier oor in 2020.

Die Advertiser het by Stiaan gaan aanklop om meer uit te vind oor hom en Volkspele.

Waar het jou liefde vir Volkspele onstaan?
Ek het langs die Volkspele kring grootgeword, want beide my ouers was versot op Volkspele en dit was hul geliefkoosde Saterdagaand tydverdryf by ‘n saamtrek. Daardie jare was daar nog baie laers, groot kringe en meer gereeld saamtrekke. Ek het in Graad Een aan ‘n talentkompetisie in Volkspeledrag deelgeneem en ‘n prys gewen. Volkspele is ‘n gesonde familieaktiwiteit wat met musiek, sang en spel gepaard gaan. Volkspele is eintlik ‘n kuns waar elke tree op ‘n sekere noot gegee word, daarom moet Volkspele ingeoefen word.

Waarom is jy so passievol oor Volkspele?
Ek is passievol oor Volkspele omdat ek weet hoe goed Volkspele is vir ‘n mens se gemoed is. As jy aan Volkspele deelneem ontspan mens se hele lyf, jy sing en speel en vergeet van al sorge. Volkspele is baie terapeuties en stimulerend. Vriendskappe word gevorm.

Wat is die hoogtepunte in jou Volkspele loopbaan en grootste prestasies?
My ouers het my nooit as kind gedwing om Volkspele te doen nie en daarom het ek self na my weermag opleiding besluit om betrokke te bly. Ek was bevoorreg om in 2006 gekeur te word vir ‘n oorsese toer na Duitsland. Ons het aan die De Doorn musiekfees in Nederland deelgeneem. Dan is ek en Marita ook twee maal gekeur vir binnelandse toere saam met die Duitse en Belgiese Volksdansers. Hierdie was heerlike ondervindings.

Hoe relevant is Volkspele vandag? Vind die jeug aanklank by Volkspele?
Die 12 laerlede en besoekers wat elke Dinsdagaand bymekaar kom om saam te sing en te speel geniet dit terdeë. Na so ‘n oefenaand is ons lekker moeg en slaap daardie aand heerlik. Ons sukkel om die jeug betrokke te kry, aangesien hul programme vol is en tegnologie die lewe oorgeneem het. Daar is wel skakeling tussen die Volkspelers en Voortrekkers aangesien een van die Voortrekkers se kentekens vereis dat hul ‘n paar Volkspele liedjies moet kan speel. Ons kry egter nie hierdie kinders by Volkspele betrokke nie, aangesien hulle en hul ouers se programme vol is. Ons Volkspelers word nog van tyd tot tyd uitgenooi om by gemeentes se kerkbasaaars op te tree. Ook tree ons graag by aftree-oorde op, en dit is altyd wonderlik om te sien hoe die bejaardes dit geniet en dat Alzheimer-inwoners begin saamsing aan die liedere wat hul vanuit hul kinderjare ken.

Wat wil jy nog in die toekoms bereik met Volkspele?
My eerlike opinie is dat Volkspele nie meer ‘n lang leeftyd het nie. Ons kringe raak kleiner en kleiner. Covid het ook sy kloue in Volkspele geslaan en ons het baie lede verloor of aan die dood of mense wat nie meer saans uit die huis uit wil kom nie. Ons sal Volkspele doen solank as wat ons kan en ons gesondheid dit toelaat.

Is daar enige wanpersepsies van Volkspele?
Mense dink Volkspele is oudtyds. Dit is egter ‘n gesonde aktiwiteit wat heerlike vermaak, oefening en brein oefening bied.

Hoe het die kostuums en selfs musiek en bewegings oor die jare verander?
Volkspele is ‘n tradisionele Afrikaanse aktiwiteit en het in 2014 sy 100ste bestaansjaar gevier. Kleredrag het nie verander nie, maar die spele is wel uitgebrei en het ons 25 nuwe spele bygekry om in te oefen. Ons leer steeds om almal mooi te ken.
Inspan kom elke Dinsdagaand om 19:00 te Witfield Park Aftree-Oord bymekaar. Die laer nooi gemeenskapselde met ‘n Afrikaner hart uit om by hul aan te sluit en die aktiwiteite te geniet. Kom beleef Volkspele en geniet die samesyn met mede volksgenote.

Lees Ook: Inspan Volkspelelaer steeds aktief

Lees Ook: Plaaslike volkspelers geniet byeenkoms in Brandford 

   

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version