Local newsNews

Tiener skenk bloed om haar oupa se nalatenskap te eer

Die leerder wil graag ander mense ook aanmoedig om bloed te skenk.

Nushka Smith, ’n 17-jarige leerder van Hoërskool Dr EG Jansen, is vasbeslote om in haar oorlede oupa, Jacobus Frederick Smith, se voetspore te trap.

Dié oupa het 305 eenhede bloed geskenk.

Nushka het reeds haar bloedskenk reis begin toe sy 16 geword het.

“Ek doen dit vir my oupa se nalatenskap. My oupa is vir my ’n inspirasie en ek dink om 305 eenhede bloed te skenk is iets om op trots te wees. Hy het in 1958 begin bloed skenk toe hy besef het hoe dit ander mense kan help.

“Sedertdien was hy passievol daaroor en het altyd bloed gaan skenk as dit tyd is. Hy het al menigte toekennings ontvang.

Oupa was so teleurgesteld toe hulle op ’n stadium vir hom gesê het dat hy nie meer so gereeld bloed kon skenk nie omdat hy ouer word.

“Hy het vir 60 jaar lank bloed geskenk. Dit is baie onselfsugtig,” het Nushka gesê.

Die leerder het gesê sy was aanvanklik skepties om bloed te gaan skenk, maar een van haar vriendinne het haar oortuig.

“Ek het by Laerskool Concordia bloed geskenk tydens die bloedskenkprojek en dit was nie eers baie seer nie. Nou is ek bly dat ek deurgedruk het. My bloed kan nou ander mense help,” het sy bygevoeg.

Sy moedig nou haar vriende en lede van die publiek aan om bloed te skenk.

“Dit is veral hierdie tyd van die jaar belangrik om bloed te skenk. Met die feesseisoen gaan nog meer mense bloed benodig.

’n Eenheid bloed kan ongeveer drie lewens red.”

Smith het onlangs haar vyfde eenheid bloed geskenk en wil ook graag ’n ambassadeur word vir die nasionale bloedbank.

Lees Ook: WATCH: Injured EG Jansen boy recovering well

Lees Ook: EG Jansen spog met nuwe hoofleiers 

   

Related Articles

Back to top button