Plaaslike kunstenaar droom groot

Die kunstenaar is passievol daaroor om ander kunstenaars te bemagtig.

Die Advertiser het gaan inloer by Dirkie de Wet van Parkrand wat besig is om sy stempel af te druk in die kunsbedryf.

De Wet het op ’n plaas in die distrik van Swellendam grootgeword en daar skoolgegaan. Na skool het hy ’n BA, LSOD, BTH en MTH aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, asook ’ PhD aan die Universiteit van Pretoria.
De Wet was ’n predikant in Simondium en in Boksburg vir 26 jaar. Hy het saam met gemeentelede ook ’n gemeenskapsprojek, The Fountain, vir haweloses in Boksburg van stapel gestuur. Die huidige New Beginnings in Markstraat by die Boksburg-meer is ’n uitspruitsel daarvan. Jare gelede het hy met ’n klein geestelike boekwinkel, Oosrand Evangelie Sentrum, in Boksburg begin toe die enigste geestelike boekwinkel gesluit het.
De Wet het al van kindsbeen af dit geniet om te skilder.

“Eers as student op Stellenbosch het ek die nodige kunsmateriaal by ’n kunswinkel genaamd Edrich kon aanskaf. Ek het in daardie tyd ’n paar skilderye gemaak asook een vir die koshuis, Huis Marais. Vir ons koshuisdinee het ek een jaar Spaanse tonele in die stadsaal van Stellenbosch geskilder. Karnaval was iets om na uit te sien met die versiering van vlotte. As predikant het ek nie veel tyd gehad om te skilder nie, maar het wel ’n paar werke die lig laat sien,” het hy gesê.

Wat het jou geïnspireer om te begin skilder?
Ek dink my inspirasie het iets met my talent of gawe te doen. Omdat ek in ’n landelike omgewing opgegroei het en my seevakansies baie geniet het, verkies ek om landskappe te skilder. Ek het ook ander temas geskilder, maar landskappe kom eerste. Ek kom uit die nageslag van Jakob Willem Zoon de Wet wat in die 1600’s ’n baie belangrike kunstenaar was en baie werke vir konings en hul paleisie gedoen het, wat natuurlik nog steeds te siene is. Dit het my ook geïnspireer. My pa, Jakob de Wet, het nie geskilder nie, maar was op ander wyses baie kunstig.
Jy het onlangs East Rand Visual Artists Combine begin om kunstenaars te bevorder. Is die groep nog aktief en suksesvol?
East Rand Visual Artists Combine is steeds aktief en bestaan uit 38 lede. Ongeveer 350 werke is op die groep geplaas waarvan heelwat van hoogstaande gehalte is. Verskillende media word gebruik, byvoorbeeld olie, akriel, waterverf, potlood en brandwerk. Ons beplan samekomste vir die lede asook uitstallings van hulle werke. Tans word ook kunsklasse uit kunstydskrifte op die groep geplaas om opkomende kunstenaars te help met hul kunswerke.
Watter kunstenaars bewonder jy?
As dit oor kunstenaars in East Rand Visual Artists Combine gaan, dan kan ek Celia van Niekerk, Freda van der Merwe, Peter Fortuin en Lea Kirsten noem, alhoewel ek elke kunstenaar se poging waardeer en bewonder. Suid-Afrikaanse kunstenaars wie se werke vir my baie besonders is, is dié van Gabriel de Jong, Michael Albertyn, Paul Munro en Chris de Wet.
Wat is jou toekomsplanne?
Ek sou baie graag uitstallings van my werke wil hou, veral by Waterfront in Kaapstad, om my Tafelbergskilderye aan die toeriste bloot te stel. Ek het al hieroor navraag gedoen. Daarom het ek reeds ’n hele aantal A4 en A3 grootte skilderye van Tafelberg geskilder en die meeste daarvan self met soliede hout geraam – klein genoeg vir ’n toeris om in sy drasak te plaas.
Wat is jou raad aan aspirant-kunstenaars?
Probeer om jou eie styl te ontwikkel waaraan jy geken kan word. Elke skildery is ’n avontuur en uitdaging. Probeer om soveel moontlik van ander kunstenaars oor tegnieke te leer. Woon kunsklasse by as dit moontlik is. Besoek kunsgallerye en uitstallings om na ander kunstenaars se werke te kyk.

Lees Ook; Group launched to promote visual artists

Lees Ook: Parkrand inwoner wil kunstenaars help

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version