Ouers dankbaar vir baba se suksesvolle hartoperasie

Janko se operasie was 'n sukses en hy behoort binnekort uit die intesiewe eenheid te wees.

Janko van Vreden, ’n vier-week-oue baba, is nou sy ouers van Sunward Park, Bennie en Maritzia, se wonderwerk nadat hy op 28 Junie ’n suksesvolle ses-uurlange ope-hartoperasie ondergaan het.

Janko is met hypoplastic aortic arch gediagnoseer. Maritzia het verduidelik dit beteken dat sy aorta (hoofslagaar) geblok en te nou is.

Bennie, ’n finansiële konsultant, en Maritzia, ’n onderwyser by Hoërskool Oosterlig, het op 20 Junie vir Janko hospitaal toe geneem toe hulle agterkom het iets is nie pluis met sy asemhaling nie.

Maritzia van Vreden by haar seun, Janko (vier weke), in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Hy het moeilik asemgehaal en kon sien hoe dit by sy ribbes ingaan as hy inasem. Ons was toe na Netcare Lakeview-hospitaal, waar hy gebore is, se ongevalle toe. Hulle het hom daar opgeneem en gedink hy het bronchopneumonia.

Hy was op suurstof gesit en hy het medikasie gekry. Op die oggend van 22 Junie het hy ‘gecrash’. Hy het heeltemal bleek en blou geraak. Na ’n hele ruk se sukkel het hul hom weer bygebring.

“Die dokter het toe begin rondbel vir plek in ’n intensiewe eenheid by ander hospitale omdat hulle nie ’n pediatriese intensiewe eenheid het nie. Net Netcare Sunninghill-hospitaal het ’n plek gehad. Terwyl ons vir die ambulans gewag het om hom oor te plaas, het hy nog twee keer ‘gecrash’. Na die tweede keer was daar besluit om hom op ’n ventilator te sit.

“Die dokter het toe begin dink dat dit eintlik ’n hartprobleem is. By Sunninghill het hul binne die eerste twee ure ’n diagnose gemaak en die kardioloog het mooi aan ons verduidelik dat hy hypoplastic aortic arch het en ’n operasie moet ondergaan,” het sy bygevoeg.

Volgens Maritzia was Janco se operasie ’n sukses.

“Dokter Erich Schürmann was die fantastiese chirurg. Hy het ’n nuwe boog vir die aorta ingesit. Die operasie het ses ure geduur.

“Ons vat dinge dag vir dag. Janko het nog ’n baie lang herstelpad wat voorlê, maar ons is so dankbaar vir die wonderwerke wat al in sy liggaam gebeur. Hy is steeds op ’n ventilator en as alles volgens plan verloop behoort hy oor so 10 dae uit die intesiewe eenheid te wees,” het sy gesê.

Maritzia het almal bedank wat vir Janko gebid het en hulle ondersteun het.

Die ma wil ook die publiek aanmoedig om ’n skenking aan die Maboneng-stigting te maak.

Die stigting is ’n nie-winsgewende fondsinsamelingsmiddel wat geld insamel om lewensreddende operasies te borg vir Suid-Afrikaanse kinders wat ly aan aangebore hartafwykings en ander lewensbedreigende harttoestande.

Luidens die Maboneng-stigting se webtuiste word ongeveer 10 000 babas in Suid-Afrika gebore met ’n hartdefek en slegs ongeveer 700 babas word geopereer en leef ’n gesonde lewe.

LEES OOK: Chereez Nel celebrates second Childhood Cancer Awareness month cancer-free

LEES OOK: Jandré is cancer-free

   

Exit mobile version