Local newsNews

Vlok Cilliers, Morné Steyn maak ‘n verskil met Tekkies-en-Toks-projek

Steyn moedig die publiek aan om op 8 Mei aan 'n virtuele pretstap van 5km deel te neem om mense bewus te maak van die Tekkies-en-Toks-projek

Die bekroonde skopafrigter, Vlok Cilliers, is terug op eie bodem en saam met Morné Steyn snoer hulle kragte saam met Solidariteit Helpende Hand om skop-skop ‘n verskil in die lewens van ons land se jeug te maak.

In Maart 2021 is die Tekkies-en-Toks-projek van stapel gestuur om, met die hulp van die publiek, minstens 1 000 behoeftige hoërskoolleerlinge landwyd met tekkies en toks toe te rus. Met hierdie noodsaaklike sporttoerustig sal hulle hul sport op gelyke vlak met hul spanmaats kan beoefen.

“Sedert die projek ‘n paar maande gelede afgeskop het om ‘n verskil te maak, het dit tot iets veel groters gegroei. Hieroor is ek baie opgewonde,” het Cilliers vertel.

Solidariteit Helpende Hand en die Vlokskop-stigting het sedert Maart aflaaipunte regoor die land geïdentifiseer waar die publiek nuwe of tweedehandse tekkies en toks kan skenk. Tot groot verbasing het skole regoor die land by hierdie inisiatief betrokke geraak. Selfs lede van die publiek en besighede het die projek begin ondersteun.

Margolé Riekert, projekorganiseerder, sê dat die behoefte is baie groter as wat Helpende Hand aanvanklik gedink het.

“Om in hierdie behoefte te voorsien, die publiek bewus te maak en fondse vir behoeftige hoërskoolleerlinge in te samel, het Helpende Hand in samewerking met Cilliers en Steyn ‘n virtuele pretstap vir 8 Mei gereël. Die publiek word genooi om deel te neem en ‘n verskil in ons jeug se toekoms te maak,” het Riekert gesê.

Steyn moedig die publiek aan om hulle eie roete met hierdie virtuele pretstap van 5km te bepaal en aan die pretstap deel te neem.

“Ek sien baie uit na hierdie geleentheid. Dit sal interessant wees om te sien hoeveel mense hierdie 5km virtueel saam gaan stap, draf of dans. Hierdie is ‘n uitstekende inisiatief en dit is lekker om te weet ek kan iets teruggee,” het Steyn gesê.

“Baie van ons aanvaar dit as vanselfsprekend om elke dag ‘n paar skoene aan te trek en met tokse op die rugbyveld te draf terwyl so baie mense dit eenvoudig nie kan bekostig nie.

“Met hierdie projek wil ons ‘n verskil maak en ons hoop ons kan die publiek se harte aanraak om ons te help.”

Die inskrywingsfooi beloop R25 per persoon. Die skool wat die meeste leerlinge het wat deelneem, sal ‘n besoek deur Steyn wen.

Besoek tekkiesentoks.co.za vir meer inligting.

Lees Ook: Talle baat by Solidariteit se tassie-projek

Lees Ook: Solidariteit Helpende Hand Boksburg ontvang welkome skenking vir skryfbehoefte-projek

   

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button