Local newsNews

Voormalige skoolhoof vier 90ste verjaarsdag

Die senior burger was ongeveer 14 jaar hoof van Laerskool Concordia

Die voormalige skoolhoof van Laerskool Concordia, Chris Uys, het onlangs sy 90ste verjaarsdag in styl gevier by Die Koffieblik, die koffiewinkel by Concordia.

Uys is op 4 April 1931 gebore in Vredendal. Hy het aan Klawer Primêre Skool en Hoërskool Hopefield skoolgegaan.

Na skool het hy gaan werk by die Departement van Pensioene. Drie jaar later aanvaar hy ’n pos as ’n klerk by Yskor. ’n Paar jaar later het hy onderwys studeer omdat hy nog altyd ’n passie gehad het vir kinders.

Die senior burger het sy onderwysloopbaan in 1957 by Laerskool Primrose-Oos afgeskop. In 1968 het hy ’n bevorderingspos by Laerskool Baanbreker aanvaar as adjunkhoof. In 1970 het hy bevordering gekry na Concordia, waar hy hoof was tot en met 1984. Daarna is Uys aangestel as superintendent van onderwys (grondslagfase).

Hy is passievol oor sport en was veral betrokke by die afrigting van rugby.

In 1955 is hy met Henna Pienaar getroud. Die egpaar is geseën met twee dogters (Alda Strauss en Dorette le Roux – albei in die onderwys), drie kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Uys woon tans in die Witfield Park Aftree-Oord en is lief vir lees, blokkiesraaisels invul, televisie kyk en kortverhale skryf.

Op die ouderdom van 90 is hy steeds perdfris en gesond.

Wat is sy sleutel tot ’n lang en suksesvolle lewe?

“Doen wat reg is en onthou dat geloof belangrik is,” het hy gesê.

Die verjaarsdagfunksie is gereël deur Susan Holliday en Bettie Farham namens personeel wat saam met hom gewerk het.

Lees Ook: 100 candles for Joan

Lees Ook: Cansa celebrates 90 years of service

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button