Rudi Claase se nuutste album verkoop soos soetkoek

Die sanger het gaste vermaak met sy goeie sin vir humor

Die gewilde sanger Rudi Claase se nuwe album, Liedjieskrywer, is goed ontvang en was ook onlangs nommer een op die Suid-Afrikaanse iTunes.

Claase het dit aangekondig tydens sy albumbekendstelling wat onlangs te Photo Factory Studio East Rand in Bartlett plaasgevind het.

“My nuwe solo-album loop soos stroop. Op Apple se top 100 Afrikaanse albums spring mens heeltyd, elke uur, van nommer een na twee, dan sommer 40. Maar ek spring so rond saam met mense soos Elandré, Riaan Benadé en Jo Black.

“Hulle is musikante wat nou regtig vir my rolmodelle is. Dit is ‘n groot voorreg,” het Rudi gesê.

Liedjieskrywer is Claase, ‘n Rynfield-inwoner, se eerste solo-album in byna agt jaar.

“Hierdie album is eerlik, dit is hoe ek die lewe aanskou. Vir so lank het ek net gewilde musiek gesing, maar nou het ek uiteindelik my eie stem en klank gevind,” het hy verduidelik oor sy nuwe album.

Claase het die bekendstelling van Liedjieskrywer as ‘n droom beskryf.

“Ek huil, ek lag, ek is vol vrede, en ek bars uit my nate. My album se bekendstelling was ‘n reuse sukses. My gehoor was ongelooflik. Die aand kon nie beter nie,” het die musikant vertel.

Tydens die geleentheid het Claase met sy engelstem en goeie sin vir humor gaste op die punt van hul stoel gehou.

Die gewilde sanger van Rynfield het ook ‘n gawe om ander kunstenaars so goed na te boots. Tot groot vermaak vir sy aanhangers het Claase amper net soos die kunstenaars Bles Bridges, Gé Korsten en Britney Spears en Tina Turner geklink toe hy van hulle liedjies gesing het.

Nog ‘n hoogtepunt van die aand was toe Claase die verhoog gedeel het met die kunstenaars Cordelia, Angel de Lange en Jennifer Zamudio.

Die bekende sangeres Nádine het ook die bekendstelling bygewoon om Claase te ondersteun.
Claase het sy aangehangers en almal wat die aand moontlik gemaak het bedank vir hulle ondersteuning.

Liedjieskrywer is nou te koop by Echo’s Music Bar in Dalpark. Die publiek kan ook vir Suzette kontak by sue@rudiclaase.com of 082 416 8204 om dié album te bestel.

Lees Ook : Rudi Claase se hart en siel in nuutste solo-album

Lees Ook: Rudi Claase se loopbaan gaan steeds van krag tot krag

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version