Local newsNews

Parkrand inwoner wil kunstenaars help

Die doel en visie van die groep is die bewusmaking van kunstenaars in Boksburg

Talle visuele kunstenaars kry swaar sedert die pandemie die land in ’n wurggreep het.

Na die inperking byna ’n jaar gelede begin het, sukkel kunstenaars om kop bo water te hou omdat kunstefeeste en kunsuitstallings gekanselleer moes word.

Daarom wil Dirkie de Wet, van Parkrand, graag kunstenaars van Boksburg aanmoedig om bymekaar te kom en deel te word van ’n groep.

De Wet het verduidelik dat die doel en visie van die groep die bewusmaking van kunstenaars in Boksburg sal wees.

“Kunstenaars in die gemeenskap moet die geleentheid kry om met mekaar kontak te maak. Die groep se aktiwiteite moet haalbaar wees en die tipe kuns wat ons gaan beoefen moet nog bepaal word.
“Ek wil graag hê ons moet byeenkomste hou om kunstenaars te motiveer en ondersteun en hul help om kunswerke te verkoop. Ten spyte van kunsgroepe op sosiale media is dit op hierdie stadium nie ’n grap om kuns te verkoop nie.

“Verder kan ons op uitstappies na kunsgalerye en kunsmuseums gaan. Die groep kan dalk ook gemeenskapsdiens doen deur fondse vir instansies en behoeftiges in te samel. Enige lid van die gemeenskap kan betrokke raak.

“Ek het opgelet dat plaaslike kunstenaars nie meer soveel blootstelling kry na die afsterwe van die bekende kunstenaar Barry de Villiers. Nou wil ek graag uitvind of daar ’n behoefte is vir so ’n groep is in Boksburg,” het hy verduidelik.

De Wet is ’n afgetrede predikant wat 21 jaar in die NG Gemeente Boksburg-Suid gedien het. Na sy aftrede het hy die geleentheid gekry om aandag aan sy skilderwerk te bestee.

Hy het geen formele kunsopleiding gehad nie, maar het van kleins af in kuns belangestel. Hy is ook ’n afstammeling van Jacob Willemszoon de Wet, ’n Nederlandse kunstenaar wat onder andere vir die koniklikes van daardie tyd geskilder het om hul paleise te versier.

Volgens De Wet het hy begin om die verfkwas op te tel omdat dit vir hom lekker was om te skilder.

“My inspirasie kom uit alle oorde. Ek skilder plekke wat ek al besoek het en waar ek vakansie gehou het, soos Skipskop. Ek kry ook inspirasie van ander kunstenaars se foto’s en skilderye,” het hy verduidelik.

Volgens die bekroonde kunstenaar van Elspark en De Villiers se susterskind, Werner Hendriks, sal só ’n groep kunstenaars ’n nodige hupstoot gee.

“Ek dink dit is ’n uitstekende idee en dit is beslis iets waarby ek betrokke sal wil raak. Ek dink die groep moet mense vanuit die hele Ekurheleni betrek. Kunstenaars sukkel deesdae regtig om hul kuns te verkoop weens die negatiewe impak wat Covid-19 op die ekonomie gehad het,” het hy gesê.

Vir meer inligting oor die groep, kontak De Wet by 072 844 8073 of dirkiedewet@gmail.com

Also Read: Barry de Villiers’s nephew will no longer give art lessons at the Creative Arts Centre

Also Read: Boksburg’s well-known artist Barry de Villiers dies

 

 

Related Articles

 
Back to top button